Plesierige boek propvol spanning, aksie en humor

Die boekwinkel tussen die wolke

Skrywer: Jaco Jacobs

Uitgewer: Pan Macmillan

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Jaco Jacobs is volgens sy webtuiste die gewildste Afrikaanse kinderboekskrywer in die land met meer as 170 titels op sy kerfstok en meer as ’n miljoen eksemplare wat gepubliseer en verkoop is. Daar word ook op die agterblad aangekondig dat Jacobs 20 jaar van topverkopertreffers agter die rug het.

Ons het dus hier met ’n ervare skrywer te make. Een wat in voeling met kinders is en presies weet hoe om in hulle koppe te klim.

Die boekwinkel tussen die wolke trek jou dadelik in met Nadia du Plessis se kleurryke en blinkertjieblink voorblad.

Dis interessant dat tipografie van verskillende fonte en lettergroottes vir sekere geluide gebruik word, wat die boek ’n vrolike aanslag gee. Die agterplat lui dat die boekwinkel Ella se gunstelingplek op aarde is. Dis ’n plek vol towerkrag, waar wonderlike dinge met jou kan gebeur. Hier kan jy tweedehandse boeke koop wat ruik na raaisels, avonture en dagdrome.

Die tema is boeke (dankie tog, ons moet ons kinders aan die lees kry!) met ’n lekker onverwagte storiekinkel. Daar is hoofstukke getiteld: Die reuk van ou boeke, ’n Netjiese man, Stowwerige boekrakke en Die Boekedag.

Ella wat die hoofkarakter is, steel ’n boek. Jy mag natuurlik nie steel nie, maar as jy steel laat dit tog in hemelsnaam ’n boek wees, wil mens amper moedswillig opmerk. Maar dan boemerang dinge ’n bietjie. Die boekwinkel se naam is heel gepas Kop in die Wolke. Net die regte plek vir ’n boekwurm soos Ella waar sy moet gaan werk omdat boeke haar eienaardige dinge laat doen.

Maar o wee, dan gebeur ’n opeenvolging van vreemde dinge. Dis asof die boeke persoonlikhede kry en vermenslik word. Hulle vlieg rond en veroorsaak chaos as gevolg van ’n boekstorm, ’n boekvloek en ’n boekmonster wat dan deur ’n boekfluisteraar besweer moet word.

Die karakters soos Ella se slim bleeksielagtige skoolmaat Einstein, die snorkende skoolbiblioteekmeneer, mnr. Grobler, die boelie Billy Bakkes wie se gelag vir Ella soos “die geluid van vuil skottelgoedwater klink wat in ’n drein afgorrel” laat jou glimlag. Dan is daar die eksentrieke en potsierlike boekwinkeleienaar, mev. Griesel, met die pers wolk om haar kop wat vermoedelik effens van lotjie getik is asook Ella se bababoetie, Robbie, wat tafelpote kou. Die dagmoeder Tannie Mona, vir wie dit nie juis ’n roeping is om na kinders om te sien nie en die ouers boetes laat betaal as hulle net drie minute laat is, herinner Ella aan alles wat met groente te make het. Haar “geelbruin tande lyk soos vrot mieliepitte”, sy het “twee styf ingedrukte rooipers raapwange” en haar dun haartjies lyk “soos die fyn wortels onderaan ’n ui.”

Daar is ook Oom Julius, die slim motorwag met die flou grappies en die kop vir somme.

Kenners meen dat ’n boek nie noodwendig vir kinders ’n les moet inhou nie en mens moet ook nie vir kinders preek nie. Hulle ontvlug graag na ’n ander wêreld en hou daarvan om oor stout kinders te lees wat dinge aanvang wat hulle nie noodwendig kan doen nie. Ook hou hulle van kinders met mag. Nouja, die kinders in hierdie boek is gewis nie almal engeltjies nie. Hulle jaag aan!

Die boekwinkel tussen die wolke is ’n plesierige boek propvol spanning, aksie en humor. Dalk net die ding om jou kind aan die lees te kry!