As die Katjiepiering blom
Skrywer: Audrey Jantjies
Uitgewer: Kwela (NB-Uitgewers)
Resensent: Carla van der Spuy
Haar arme beskermengel Amakhoeb moet omtrent oortyd werk om tot Lea Floris, die hoofkarakter in hierdie bildungsroman, se redding te kom. Hy dink aanvanklik sy werk is maklik, maar later raak hy so verskrik dat hy hulp van een van sy gevleuelde kollegas moet ontbied.
As die katjiepiering blom is ’n ontroerende verhaal van geloof, hoop, wanhoop, verlies en liefde.
Dis ’n vormingroman of ’n sielkundige roman, wat oor die ontwikkeling van die persoonlikheid en psige van die protagonis in daardie baie sensitiewe tydperk tydens die oorgang van jeugdigheid tot volwassenheid gaan.
Hierdie roman maak die wêreld van plaaswerkers gedurende die apartheidsjare oop. Dit beskryf swaarkryjare met armoede, boonop gekenmerk deur huishoudelike geweld, seks oor die kleurlyn, aanspreekvorms soos “Mies” en selfs lyfstraf vir die werkers. Dis ’n groot vergunning as die huiswerker haar eenuurbrood met worsvet kan smeer in plaas daarvan om dit droog te eet!
Geld is so skraps dat Lea se ma met opset skoolklere wat twee “sizes” te groot is, koop want teen die tyd dat die “lay-buy” by Pep afbetaal is, gaan dit pas.
As Lea die geleentheid kry om aan ’n universiteit te studeer, droom sy van ’n veel beter lewe. Sy wil uit Galberg padgee en iets van haar lewe maak. Sy is mos spesiaal. Maar onheil wag op haar in die stad se Sodom en Gomorra, waar sy gou straatwys moet word om te oorleef en soms rampspoedige besluite maak. Mens hou behoorlik jou hart vas vir die kind.
Jantjies se skryfstyl is eerlik, spontaan, onbevange en van alle pretensie gestroop. Dis toeganklik.
Die boek praat reguit en padlangs en van die karakters vloek mekaar behoorlik onder die rok in, maar dis alles in konteks.
Tommie is byvoorbeeld so lelik omdat hy ’n “skeefgeloopte bastergemors” is.
Die beskouing van wit mense in die tydperk voor demokrasie is baie interessant soos wanneer Jantjies skryf: “Jy is ’n tipe royalty as jou hare nie die kroesgeit het van ’n Lea-draad nie. Want dit beteken jy is amper soos die wit mense, wat soms in hul fênsie karre deur die dorp ry en neusoptrekkerig na die snotneuskinders kyk.”
En “Antie Damma bak vir die wit mense ook. Dis hoe goed sy is.”
Jy lag en snik om te beurt. Hoewel die storie dikwels donker is, verloor die skrywer en haar karakters nooit hul humorsin nie.
“Tant Kôtjie skuifel-skuifel so met haar giant pampoene vir stêre by die deur uit. En wat sy leen kom ook nooit terug nie.”
Lea se pa Jakob is ’n bose karakter wat Mammie Dientjie allerverskrikliks skel en slaan. Hy word nie as ’n tweegesig beskryf nie maar eerder as ’n “viergevreet”. “Een vir sy huismense, een vir sy los vroue, een vir sy dronk maats en een vir die witmense en dieselfde vir die kerkmense.”
Sy skryf: “Lea-hulle het nie ’n TV nie oor Jacob sê dis die duiwel se Bybel. En hy sal seker weet want hy’s mos die duiwel se hoofman.”
Lea bevraagteken haar geloof en wonder hoe Liewe Jesus die wêreld so lief kan hê en die mense van Galberg so swaar laat leef. Sy wonder ook hoekom haar ma dan nie ’n veggees het nie.
As sy weg van haar ellende af na die stad toe vlug, ontmoet sy ’n paar mans wat nou nie juis oor die materiaal beskik waarvan drome aan mekaar gesit is nie. Die gevolge is rampspoedig. Sy voel verlore. Uitgedor.
Ek het ’n hele paar uitdrukkings en woorde geleer soos “ougat maak.” Daar is ook vertalings agter in die boek van ’n handjievol Nama-woorde wat in die teks voorkom soos Elob:God, IHommi:hemel en Sâub:beskerm.
Wat die storielyn betref, is daar vir elke handvol verloorders wat broek dra, darem hier en daar ’n spreekwoordelike prins op ’n wit perd wat sy verskyning maak.
Soos die Emmanuel-karakter wat amper te goed is om waar te wees. ’n Engel sonder vlerke. Ek glo nie sulke mans is volop gesaai nie.
Hoewel die gelukkige einde taamlik voorspelbaar is en daar dalk net ’n bietjie te veel toevallighede in die ontknoping is, laat dit jou nogtans met ’n sug van genoegdoening.
Die goeie seëvier.
Genadiglik.