Die spookverhale is versigtig uitgekies en hervertel

Die wandelende geraamte en ander spookstories van CJ Langenhoven

Outeur: CJ Langenhoven

Samesteller: Wendy Maarten

Uitgewer: Protea Boekhuis

 

 

Hierdie bundel het ontstaan na aanleiding van ’n gesoute bibliotekaresse se vreugde oor kinders wat ’n ou hardebandbundel met Langenhoven se spookstories uit die volwasse afdeling smokkel om in die kinderafdeling voos te lees … Die spookverhale is versigtig uitgekies en hervertel deur Wendy Maartens om by die oorspronklike teks aan te sluit, en terselfdertyd ook tot die kind van vandag te spreek.

            “Ek was mal oor spoke. Eintlik was ek ’n soort spookwetenskaplike. Oral waar ek gekom het, het ek spookstories bymekaar gemaak. En nou is ek self ’n spook … kan ’n mens so gelukkig wees?” – C.J. Langenhoven, soos verbeel deur Maartens in Die wandelende geraamte en ander spookstories van CJ Langenhoven

            “Terwyl ek aan die bundel gewerk het, het ek my soms verbeel Langenhoven sit in die blou leunstoel langs my boekrak. As hy tevrede was met waarmee ek op daardie tydstip besig was, was daar die gemeenskaplike stilte wat baie woorde op papier soms tussen twee mense bring en … nou en dan, die geur van ’n pyp wat aangesteek word.” – Wendy Maartens

  C.J. Langenhoven, ook bekend as “Sagmoedige Neelsie”, was een van Suid-Afrika se grootste denkers, digters en skrywers. Hy was ook ’n kampvegter vir Afrikaans.

 

OOR DIE SAMESTELLER

Wendy Maartens woon in Table View – ’n klipgooi van die “groot blou dam”, Rietvlei se strandmeer en die Weskus waar alles om die draai van die gety, vroegoggend se vangs en die stories van vroeër dwaal. Sy is ’n kinderboekskrywer, joernalis, vertaler en dromer. In 2005 het Lena se bottelboom Exclusive Books se “Publisher’s Choice”-lys gehaal en in 2006 het Maartens ’n eervolle vermelding by die Noma-toekennings ontvang. Sy was ook twee keer ’n finalis by die ATKV se Veertjie-toekennings: In 2006 vir Lena se Bottelboom en in 2007 vir ’n rubriek. Ander Protea-titels van haar sluit in: Stories van die see en Sea Stories (met illustrasies deur Marjorie van Heerden, 2016), Kerneels en die Krismisengel en Chris and the Christmas Angel (met illustrasies deur Anneliese Voigt-Peters, 2018) en Die beste verse van Tienie Holloway (met illustrasies van Alida Bothma, 2021).