Kry vir jou

Skrywer: François Bloemhof

 Lapa Uitgewers

Resensent: Francois Bekker

 

 

Tong in die kies. Aweregs. Meta-fiksie. Spanningslektuur. François Bloemhof se speurroman Kry vir jou – ’n Ludo Labuschagne #2 – is al hierdie goed en meer.

Die eerste Ludo-boek, Die duiwel maak my hart so seer, verskyn in 2021. Bloemhof se doelstelling was om die reëls van misdaadfiksie te breek. Dit doen hy op ’n manier wat groot leesplesier verskaf.

Die eerste boek het in Januarie 1981 afgespeel. Met hierdie roman bevind ons held hom in Februarie van dieselfde jaar.

Toevallig, want Ludo Labuschagne se lewe is nou eenmaal besaai met toevallighede, loop hy een aand ’n ou weermagvriend raak. Regstelling, nie vriend nie. Hulle het saam diensplig gedoen en vriende kon hulle destyds onder geen omstandighede wees nie. Naas de Wet vertel aan Ludo van die vreemde dinge wat op hulle wynplaas buite Stellenbosch gebeur. Kort voor lank bevind Ludo, wie mos nie raaisels kan weerstaan nie, hom op Dewetsdrift. Sy missie is om hierdie familie by te staan met sy kennis en ondervinding om die verlore stukke te vind wat die legkaart van suspisie, nyd, wraak en erger sal voltooi.

Op Dewetsdrift woed ’n jarelange broedertwis. Strukture brand af. Items in die indrukwekkende plaasopstal verdwyn. En Ludo Labuschagne is in sy element as hy homself vier weke gee om agter die kap van die byl te kom. Elke week neem die spanning toe en selfs die lyke begin ophoop. Gaan hy wat Ludo is lewendig uit hierdie intrige kan stap?

Die hele opset van François Bloemhof se Kry vir jou is dat dit van begin tot einde ’n slim, en moet ek bysê, heerlike spel is. Eerstens is dit ’n speurroman wat kyk na die genre waarbinne die verhaal afspeel en vrae vra oor die aard daarvan. Letterkundige binnepret soos min.

Die familieplaas met al sy vetes en gevolglike spanning sorg reeds vir ’n lekker storie. Ook die manier hoe die skrywer die stryde uit die verlede te berde bring, hou die leser vasgenael aan die lees.

Voeg hierby die fassinerende karakters met al hulle geite en geraamtes wat metterwyl uit die kas uit donder. Soos ’n ui word die storie wat jy lees laag vir laag afskil. Die heerlike spel met die karakters se name verdien spesiale melding. Die gesiene eienaars van die spogplaas waar Ludo tuisgaan om leidrade te snuffel se familienaam adem pure Afrikaner-aristokrasie wat beelde van heldedom oproep met die Boeregeneraal in gedagte. Dan is daar die verpleër Wille Verwoerd. Met so gelaaide familienaam kan dit net interessant raak, glo my vry.

Met die verhaal wat in 1981 afspeel, bied Bloemhof weer ’n tydkapsule wat die leser laat lag en dink tegelykertyd. Die storie van Mien byvoorbeeld en die ding van “En dit is hoe dit gaan in die wit wêreld” (bl. 139) is niks anders as hartverskeurend nie. En natuurlik is Ludo nog steeds so allergies vir werk met nie ’n suggestie van ambisie by hom te bespeur nie. Hy is die onwaarskynlikste speurheld wat ek al ooit raak gelees het. ’n Karakter wat ten spyte van diep in jou hart in kruip – ’n mens kan nie help om van die ou te hou nie.

Francois Bloemhof se wiedoenit #1 is verlede jaar baie gunstig deur resensente ontvang. Met Kry vir jou word die vorige karakters verder ontwikkel en die skrywer delf selfs dieper in die land se komplekse verlede. Paternalisme as tema figureer sterk in die verhaal. ’n Speurroman wat uitstekende ontvlugtingsvermaak verskaf enersyds en met verrassende fasette indrukwekkende letterkundige waarde bied. Voeg hierby donker geheime en verrassende kinkels wat die slimste leser uitoorlê. ’n Onneersitbare tonekrullekker storie gevul met humor wat boei van begin tot einde.