Van Humpata tot Upingtonia
Skrywer: Nicol Stassen
Uitgewer: Protea Boekhuis
Resensent: Carla van der Spuy
Dalk beskik die Afrikaner oor ’n swerwergeen. Die trekkers het ’n lang geskiedenis van probleme soos die Xhosas, die Oosgrens en die Britse Owerheid gehad waarvan hulle weggetrek het. Dis asof die geskiedenis homself vandag met die Diaspora herhaal, want weereens is dit ’n geval van: “Vat jou goed en trek” na groener weivelde.
In Van Humpata tot Upingtonia lees mens hoe die Boere voortdurend die pad elders heen geneem het eerder as om hul probleme met ander metodes op te los. En net soos vandag die geval is met sommige emigrante wat na Suid-Afrika terugkeer, was dit ook so met die trekkers. Vir talle was Humpata en Upingtonia toe nie die beloofde land van melk en heuning nie en is hulle sak en pak huis toe.
Hierdie boek beskryf die onbeskryflike lyding, koppigheid en taaie volharding van die Dorslandtrekkers wat hulle eers na ’n swerftog van sewe jaar deur van die mees afgeleë dele van Afrika, by Humpata op die Hoogland van Angola gevestig het. Net om teleurstelling en ontnugtering te beleef. Kort voor lank was baie van die rustelose trekkers al weer op pad terug Transvaal toe.
Al het dit beteken dat hulle soms in lewensgevaar verkeer het. Veral hartverskeurend is die groot verlies aan kinderlewens en veral babas. Mens lees van 41 gesinne en 191 mense waaronder 5 weduwees wat van 1884 tot 1885 van ’n aanbod gebruik gemaak het om van Humpata deur Ovamboland terug te trek Transvaal toe. Tog kon dit nie so sleg daar gegaan het nie, want daar was ook boere wat agtergebly het.
Een van die fassinerendste karakters in die boek is dié van die Kaapse bruin man William Worthington Jordan wie se pad ’n paar keer met dié van die Dorslandtrekkers in die Dorsland, Ovamboland en Suid-Angola gekruis het. Hy was die seun van ’n Engelse pa en ’n Kaapse bruin vrou, Margaret Jordan. Een groep trekkers het besluit om hul lot by dié van Jordan in te werp waarop die kortstondige republiek van Upingtonia in die noorde van die Suidwes-Afrika gestig is.
Jordan is deur die skrywer WA de Klerk beskryf as “hoogs intelligent met veral ’n doeltreffende mediese kennis, vreeslose ondernemingsgees en besiel met ’n brandende liefde vir daardie grootliks nog ongerepte land Kunene/Okavango.”
Verfynd en opgevoed het hy ’n hogere Engels gepraat.
Die boek beskryf van watter groot waarde Jordan vir die trekkers was vir wie hy baie opgeoffer het. Hy het ook met ’n trommel medisyne rondgetrek. Daar is om die beurt na hom as “die medisyneman” of selfs “Dokter Jordan” verwys. As ’n gekleurde man wat ’n leier van ’n wit gemeenskap geword het, het hy blykbaar ’n soort bewondering vir die Boere gehad. Jordan het byvoorbeeld in 1885 die Duitse verteenwoordiger op Walvisbaai ingelig dat hy beoog om die gebied wat hy van die OvaNdongo aangekoop het vir blanke kolonisasie ongeag nasionaliteit, beskikbaar maak. Plase van 3000 morg sou gratis beskikbaar gestel word. Van die 44 plase wat uitgereik is, het Jordan vyf gekry.
Hy is ongelukkig met ’n dubbelloop olifantgeweer vermoor – ’n groot verlies vir die trekkers. Hoewel Upingtonia onder die beskerming van die Duitsers gestaan het, het hulle niks gedoen om die moord op Jordan te bestraf nie.
ONTBERINGE:
Die lewe moes verskriklik tydens die Dorslandtrek gewees het.
Mens wonder telkens of enige mense in ons geskiedenis so swaar soos die Dorslandtrekkers gekry het. Party het aldus die boek tot 15 jaar lank ’n nomadiese bestaan met hul heen en weer trekkery gevoer. Hulle was die slagoffers van droogte, koors, veediefstal en -vrektes, armoede en moord.
Die trekkers moes deur ongunstige en onstabiele streke met hope konflik trek. Hulle is van wapens en ammunisie geplunder, beeste en vee is uit die veld gehaal en geslag en hoenders is op die werf doodgeslaan en geskiet. Daar is selfs van moorde met knopkieries en assegaaie gepraat.
Tekenend van die lyding soos deur Stassen beskryf, is die kort lewenskets van die weduwee Catharina de Klerk. Sy was op 13 ’n weeskind en het op 15 met haar neef getrou wat vyf jaar later oorlede is. Sy het daarna nog twee keer getrou en die mans is ook oorlede. Op 25 was sy al drie keer ’n weduwee. Nog was het einde niet.
Na haar terugkeer Transvaal toe het sy nog twee keer ’n bruid en weduwee geword. Vandag sou ’n vrou wat vyf mans oorleef het, as ’n verdagte beskou word!
Stassen skryf dat een Boesmanleier die huis ingestap het en vir ’n weduwee ingelig het dat hy haar man doodgemaak het en nou sy klere dra. “Nou is ek jou man. En sal vir jou en die kinders sorg.”
’n Ander weduwee het alleen met twee klein kindertjies getrek. Baie mans was platgetrek deur die koors, en boonop het inboorlinge haar wa aan die brand gesteek. Sy het net ’n trommeltjie en ’n sakkie dokumente oorgehou.
Party trekkers moes maande en selfs jare in hul ossewaens oorleef. Hulle moes dikwels op liefdadigheid staatmaak.
’n Jagter en reisiger het opgemerk dat selfs die Israeliete nie so swaar gekry het nie.
Interessante inligting is dat daar destyds minstens agt verskillende stamme van die Ovambo’s oor die Noorde van Suidwes-Afrika en Angola versprei was. Hoewel die trekkers hulle probeer vermy het (Koning Kambonde van Ondwangwa het glo baie mense laat vermoor), het ruilhandel soos ’n naaldwerkmasjien met ’n demonstrasie en broeke vir die hoofman in ruil vir ’n jong os plaasgevind.
Ook interessant is die verwysing na ’n ryk hoofman met 35 000 beeste in die Waterberg wat as gevolg van die Duitse sendelinge Westerse klere begin dra het. Sy osse het hom nie in die nuwe klere herken nie en het glo weggehardloop.
Ek haal my hoed vir die skrywer af wat bykans twee dekades gelede reeds met navorsing oor die Dorslandtrek en die Angola-boere begin het. Dit moes buitengewone toewyding gekos het. Hy het talle name, datums en gebeure nougeset aangeteken sodat daar aan die einde van die boek meer as 90 bladsye se eindnotas, registers en bronne aangeteken is waaruit nageslaan kan word. Hierdie omvattende glansboek met sy treffende illustrasies van skilderye, padkaarte en stokou foto’s met donderweer op die oumense se gesigte, sal besonder gewild wees onder liefhebbers van die geskiedenis en veral van die Dorslandtrekkers.