Skrywer: Johan Myburg
Uitgewer: Protea Boekhuis (2022)
ISBN 978-1-4853-1345-8 (R240)
Resensent: FC Pelser
Narreskip is die jongste bundel uit die pen van Hertzogprys-wenner, Johan Myburg. Soos in die voorafgaande bundels uit die digter se oeuvre, skryf hy met ’n skerp sosiale bewussyn.
Die titel wat sinspeel op Plato se Ship of fools, gebruik ook, soos die allegorie uit Plato se Republiek, gereeld skipbeelde om sy gevoelens en denke in die Suid-Afrikaanse stormwaters te navigeer.
Die gedig “Politeia” (Boek IV) (8) is ’n goeie voorbeeld van dié distopiese beeld: ’n groep seevaarders; te lui om te leer, oningelig maar onbewus van hul onkunde en die uiteindelike ramp waarop dit afstuur.
Die bundel se omslag betrek op sy beurt Jheronimus Bosch se “Die tuin van aardse luste” en voer as’t ware ’n intertekstuele gesprek met verskeie tekste, politiese satire en allegorieë – ’n element wat Myburg vanweë sy akademiese agtergrond uiters suksesvol aanwend in sy sosio-politiese kommentaar.
Dié intertekstuele gesprek is ’n vervlegting van jarelange gesprekke, debatte, kompromieë en kritiek op die maalkolk van Suid-Afrikaanse politiek.
Dit is ’n gesprek wat nie staatmaak op parodie of pastiche nie, maar eerder ’n herskryfde interpretasie van ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing – ’n Narreskip.
“Die gedigte is helder en kommunikeer direk. Tekste uit vorige samelewings word opgestel om teen in te speel. Kunswerke (lettere, beeldende kuns, musiek) en kunstenaars uit verskillende tradisies, tye en tale (Oosters, Westers, Europees, Middeleeus, Renaissance, eietyds, Nederlands, Spaans, Afrikaans) word telkens betrek in die gesprek oor hoe en waar ons nou leef. Dit is daarom ook nie ’n boek oor die verlede nie, maar spesifiek in die hede gesitueer.” Karen de Wet (2022)
Die bundel lewer egter nie net kritiek op die samelewing nie, maar suggereer die rol van die digter (en in ’n sekere mate die leser) en die verband met die digkuns en die samelewing. Met die intrapslag maak Myburg dit duidelik dat hy sy stem wil gebruik en ander maan om dieselfde te doen.
“Dalk omdat ek ink het en ’n vel oop papier
skryf ek op wat gebeur, hou ek as onverkose
skriba boek van dié tog, van wat ek dínk gebeur
aan boord van dié skuit sonder bevare matrose
of kaptein.” Narreskip I (9)
Daniel Hugo skryf: “Die enigste manier om in Suid-Afrika te oorleef is om die geweld, korrupsie en onbevoegdheid van die politieke leiers en staatsamptenare satiries uit te beeld,” en in ’n sin kan mens redeneer dat dít ook die digter se boodskap kan wees – Dis nie soseer ’n aanval of ’n aanklag op die stelsel nie, maar ’n oproep om verandering en anderse denke.
Narreskip is allermins nie ’n “maklike lees” nie, maar vir die fynproewer ’n woord-bredie waaraan hulle vir ure kan smul en kan herkou.