Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) meen die beoogde vernietiging van die Chief Albert Luthuli-gedenkbegraafplaas in Pietermaritzburg is die eerste poging van onteiening sonder vergoeding en dit is boonop kerkeiendom.
Die FAK het ’n ondersoek geloods na die waansinnige aankondiging van die Msunduzi-munisipaliteit om dié begraafplaas se grafte op te grawe en dan die grond te gebruik vir ’n ontwikkeling.
Die FAK se ondersoek het bevind dié eiendom behoort aan vyf kerke, die NG Kerk, Anglikaanse Kerk, Metodistekerk, Rooms-Katolieke Kerk en die Kerk van Engeland.
Dié agte erwe is almal in privaat besit en nie een van die eiendomme word deur die munisipaliteit besit nie.
Ziegfried van Huyssteen, adjunk uitvoerende hoof van die FAK, glo dit is van alle logika ontbloot dat die munisipaliteit seggenskap wil uitoefen oor ’n ontwikkeling van eiendom as hulle nie eers die wettige eienaars daarvan is nie.
“Selfs die blote aankondiging van die voorneme vir ’n ontwikkeling maak die staat en die munisipaliteit se intensie baie duidelik, diefstal van eiendom. As die staat kerkgrond wil onteien, is die vraag waar gaan dit stop?
“Die FAK voel dit is nou belangriker as ooit dat die gemeenskap tot die geveg moet toetree,” sê Van Huyssteen.
Daarom het die FAK ’n petisie van stapel gestuur wat honderde mense reeds onderteken het om die drakoniese vernietiging van erfenis te stop en eiendomsreg te verseker.
Daar is verskeie Voortrekkergrafte wat tot 180 jaar terug dateer wat onder meer insluit die predikant van die Voortrekkers, eerwaarde Erasmus Smit, en sy vrou Susanna. Die Kaalvoetvroumonument is ook na Susanna Smit vernoem. Sy was die vrou wat gesê het sy trek eerder kaalvoet terug oor die Drakensberg voor sy weer deur die Britte regeer word.
Die vroegste oorlewende grafsteen in die begraafplaas is dié van Henrdick van der Berg wat in 1839 oorlede is.
Daar is ook verskeie Anglo-Boereoorlog-grafte, onder wie lt. William Manfred Clapham, ’n bevelvoerder wat gesneuwel het tydens ’n skermutseling op Lombardskop in Ladysmith.
Die begraafplaas is ook die finale rusplek van 213 Boerevroue, -kinders en -bejaardes wat in Britse konsentrasiekampe omgekom het.
Dit is ook nie net die erfenis en geskiedenis van die Voortrekkers wat hier vernietig sal word nie, maar inderwaarheid die geskiedenis van die stad Pietermaritzburg.
Dié historiese begraafplaas huisves grafte van onder meer veterane van die Tweede Wêreldoorlog, voormalige burgemeesters en skoolhoofde van die bekende skool Maritzburg College.
Volgens van Huyssteen, is die munisipaliteit se planne ongegrond en hoogs onwettig, aangesien die grond nie aan hulle behoort nie.
Die FAK ondersoek ook ’n moontlike regsaksie sou die munisipaliteit besluit om met dié proses voort te gaan.
“Omdat die munisipaliteit nie die grond besit nie, is dit duidelik dat selfs hul konsultasieprosesse nie wettig is nie. Aangesien daar geen deursigtigheid van die munisipaliteit se kant af is oor hul planne met ander mense se eiendom nie, het ons ook besluit om self ondersoek in te stel oor die agtergrond van die begraafplaas,” sê Van Huyssteen.
Die FAK doen ’n beroep op die gemeenskap om nou die petisie te teken en die staat se poging om grond te onteien dadelik stop te sit. Klik op die skakel om die petisie te teken.
Voeg jou naam by ons petisie om die sloping en vernietiging van ons erfenis te voorkom.
Besoek die FAK se webwerf by https://www.fak.org.za/pietermaritzburg/ en help ons om standpunt in te neem.