Klassieke musiek leef in die Voortrekkermonument

Albert Mamriev

Albert Mamriev

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die afgelope naweek geskiedenis gemaak by die Voortrekkermonument met die eerste soloklavieruitvoering van die internasionaal bekroonde pianis Albert Mamriev.

Prof. Mamriev het op Sondag 29 Januarie in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal besoekers vermaak met ’n wêreldklasklavieruitvoering en sê hy is baie opgewonde om te sien dat klassieke musiek nog lewendig is in Suid-Afrika.

Die FAK is vanjaar ’n trotse borg van die Mansh Internasionale klavierkompetisie waar Mamriev as hoofbeoordelaar opgetree het en hoewel hy die naweek musici uit verskeie lande beoordeel het, meen hy dat Suid-Afrikaanse musikante kan kers vashou by die bestes in die wêreld.

Mamriev, wat afkomstig is uit die Russiese republiek van Dagestan, is ook bekend as komponis en musiekvervaardiger.

Hy was vergesel deur die uiters talentvolle Lezanti van Sittert, ’n Suid-Afrikaanse pianis wat tans in Duitsland haar doktoraal onder sy leiding doen.

Van Sittert wat die voorprogram gespeel het, is self ’n sprekende bewys van die uitnemende talent wat SA bied, en so is sy dit ook eens met haar mentor dat Suid-Afrikaanse musikante nie hoef terug te staan vir internasionale talent nie. 

“Ons wil graag hê dat plaaslike talent ondersteuning en geleentheid kry om op internasionale vlak te kan kompeteer, daarom is ons so dankbaar vir geleenthede soos vandag wat jongmense blootstel aan die wonder van musiek. Ons is natuurlik ook baie dankbaar vir organisasies soos die FAK wat help om ons jongmense se talent te ontwikkel,” het sy tydens haar uitvoering vertel.

Hannelie van Sitterd, organiseerder van die Mansh Internasionale klavierkompetisie sê hierdie uitvoering is enig is sy soort en hoop dat dit baie jongmense sal inspireer om hul musiekpassie uit te leef en te ontwikkel.

Jaco van Staden, projekbestuurder van musiekontwikkeling by die FAK, het op Sondag ook gesê dit is vir hom en die FAK ’n reusevoorreg om prof. Mamriev by die Voortrekkermonument in die Senotaafsaal te kon verwelkom.

“By die FAK streef ons uitnemendheid na met al ons projekte en ons hoop dat hierdie projek ’n eerste is van baie musiekprojekte waarmee ons dag na dag kan bewys dat Afrikaanse musikante, hetsy dit op die klassieke of populêre verhoog is, van die bestes in die wêreld is.”