Anna Neethling-Pohl

Anna Neethling-Pohl (gebore Anna Servasina Pohl; *1906 – †1992) was ’n Afrikaanse aktrise en skrywer wat op die verhoog en in rolprente opgetree het. Sy lewer ook skryfwerk onder die skuilname AP Niehaus en Wynand du Preez. Saam met WA de Klerk skryf sy die briefroman Van Willem en San onder die skuilnaam Anna Heymans. Sy het in meer as 50 verhoogproduksies en hoofrolle opgetree, en sewe van Shakespeare se dramas in Afrikaans vertaal. Sy het ook verskeie romans gepubliseer waarvoor sy die Langenhoven-prys in 1926 en die Vaderland-prys in 1937 ontvang het. Vroeg in 1945 begin sy in Johannesburg werk vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), waar sy omroepster is en Afrikaanse programme vervaardig en sy is eindelik vir 21 jaar aan hierdie organisasie verbonde. Haar werkgewer is tegemoetkomend teenoor haar ander belangstellings en laat haar toe om verskeie dramas op te voer, te regisseer en op toneelreise te gaan. Onder andere het sy in hierdie tyd ’n noue werkverhouding met André Huguenet.

 

In Januarie 1947 word sy lid van ’n subkomitee van die Nasionale Raad vir Volwasse Onderwys, wat die rol van die teater in volwasse onderwys ondersoek. Hulle verslag lei eindelik tot die stigting van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO), waarvan sy ’n lid van die eerste raad is. Aan die einde van 1964 bedank sy by die SAUK en word in Januarie 1965 professor in Drama aan die Universiteit van Pretoria, ’n pos wat sy tot 1971 beklee. Sy lewer haar intreerede in 1966 onder die titel Die akteur en sy rol in sy gemeenskap. Van haar studente was George Ballot, Lerina Erasmus, Katinka Heyns, Tobie Cronjé, Sandra Prinsloo en Trudie Taljaard.

Met dié toekenning word erkenning gegee aan persone se besondere bydrae tot die Afrikaanse kultuurlewe.