Anton Hartman

Anton Carlisle Hartman (*1918 – †1982) was ’n dirigent, uitsaaipersoonlikheid, musiekadministrateur en die laaste nagenoeg vier jaar van sy lewe hoogleraar in musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was onder meer musiekdirekteur van die SAUK, van 1964 tot 1967 voltydse dirigent van die uitsaaikorporasie se simfonieorkes, voorsitter van die FAK se musiekkommissie en musiekadviseur van die Operavereniging van Suid-Afrika (Opsa). Hy het hom in besonder beywer vir die werke van Suid-Afrikaanse komponiste en die opvoering van operas in Afrikaans. As een van die veelsydigste en bekendste dirigente in Suid-Afrika het hy in later jare gereeld met al die vernaamste orkeste in die land saamgewerk. Die eerste uitvoerings van groter werke deur nie minder nie as 18 van die voorste Suid-Afrikaanse komponiste is deur hom behartig. Ook het hy die musiekpatronaat van die SAUK uitgebrei deur gereeld nuwe werke by Suid-Afrikaanse skeppende musici te bestel.

Met dié toekenning word erkenning gegee aan persone se besondere bydrae tot die skeppende uitbou en ontwikkeling van klassieke musiek en koorwerke.