Mediaverklaring

29 Mei 2023

Die Bela-Bela-gemeenskap het Saterdag 27 Mei by die Voortrekkerbegraafplaas in dié dorp opgedaag en skouer aan die wiel gesit om ’n verskil te maak.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke het vir hierdie projek hande gevat met Bela-Bela Heritage, ’n organisasie gestig ter bevordering van geskiedenis en kultuurerfenis. Tesame met die plaaslike gemeenskap wat hul tyd opgeoffer het om eer te betoon aan Voortrekkerhelde wat net buite die dorp begrawe is, is hierdie begraafplaas skoongemaak en verfraai.

Dit is vanjaar die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die FAK se fokus vir kultuurnetwerke in hierdie tydperk is om die voortbestaan en veiligheid van Voortrekkerbakens te verseker.

Johan van Niekerk, voorsitter van die Bela-Bela Heritage, het sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap wat so bereidwillig was om te help.

“Dae soos vandag is vir my van uiterste belang. Baie mense redeneer geskiedenis is oud en stowwerig, en niemand stel regtig belang nie,” sê hy. “Baie keer voel ek so alleen met dit wat ek doen, en dan kry jy dae soos vandag wat daar mense opdaag, uit die bloute uit en jy besef ander deel ook jou passie.”

Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK, het tydens die projek ’n sertifikaat ontvang vir sy “bydrae tot die bewaring van ons erfenis”.

Daar is 23 grafte in hierdie begraafplaas ontdek, maar slegs op vier van die grafstene was die inligting nog leesbaar. In hierdie begraafplaas is die stigterslede van die dorp Hartingsburg ter ruste gelê, wat later deur die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) hernoem is na Warmbad, wat volgens oorlewering die naam van die stasie op die dorp was.

Later, in 1994, is die dorp weer hernoem na Bela-Bela, die tradisionele Noord-Sotho-naam vir die warmwaterbron.

Bela-Bela Heritage neem verantwoordelikheid vir hierdie Voortrekkerbegraafplaas en onderneem om hierdie en ander erfenisbakens in die area te bewaar.