Die oud-Springbok Bakkies Botha versoek van sy vriende, die sangers Adam Tas en Appel, asook Buffelsfontein se Meyer le Roux om van 9 April af hul braaitange op te tel en vir ’n week lank terwyl hulle onderskeidelik in afsondering is, vir ’n goeie doel te braai.

Margolé Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpJag, verduidelik dié manne doen die gebaar vir twee redes – om solidariteit te toon vir almal wat te midde van die Covid-19-pandemie op die voorgrond werk, en om te poog om geld vir kos vir behoeftige gesinne in te samel. Dit word onder die vaandel van #BraaiVirAnder gedryf.

“Dit is basies ’n landwye deernis-braai wat #HelpJag saam met Bakkies the Butcher in samewerking met Wild & Jag, die FAK, Rapportryerbeweging en Pretoria FM aanpak. Saam met hierdie bekendes en instansies wil ons die publiek aanmoedig om saam te braai as hulle kan. Almal wat tussen 9 en 16 April ’n braaivleisvuurtjie aansteek kan die gebaar ondersteun en só ook aan almal dink wat nog op die voorgrond werk, asook aan gesinne wat glad nie kos het nie,” sê Riekert.

Riekert verduidelik Helpende Hand het reeds verlede week sy #WitStrik-inisiatief van stapel gestuur om mense sover te kry om vir hom of haar ’n wit strikkie uit enige materiaal tuis te maak, dit op sosiale media te plaas en dit dan elke dag te dra, én so solidariteit vir dokters en mediese personeel te wys.

“Met #BraaiVirAnder wil ons deur #HelpJag die #WitStrik-poging na ’n volgende vlak neem en terselfdertyd bewusmaking skep van die opofferings wat elke gemeenskap se voorste linie gesondheidswerkers, noodsaaklike dienste-werkers, weermaglede, die polisie en metropolisielede maak tydens die inperking, sowel as die impak op die minder bevoorregtes binne ons gemeenskappe,” sê sy.

Riekert sê Bakkies is bekend vir sy onblusbare passie vir liefdadigheid asook vir sy gemeenskap en het daarom besluit om die #BraaiVirAnder-veldtog aan te vuur.

“As ambassadeur van #HelpJag, ’n inisiatief ten bate van Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wil hy dankbaarheid betoon teenoor die noodsaaklike werkers tydens die inperking, maar ook bewusmaking skep oor die nood waarin die minderbevoorregtes hulle tans bevind. Soos hy elke dag sê – elke kind het die reg om gevoed te word.”

Riekert voeg by al kan die publiek nie tydens die inperking uitgaan nie, kan hulle steeds help deur ‘n finansiële bydrae te maak wat #HelpJag in staat stel om vleis aan te koop en versprei en só behoeftiges te voed. Besoek www.helpjag.co.za om ’n bydrae te maak.

•             WEN – Steek saam met die res van Suid-Afrika gedurende 9 en 16 April 2020 jou braaivleisvuur aan! Wanneer jy braai dink aan die hardwerkende en minder bevoorregtes in jou gemeenskap en hoe jy hulle kan bystaan. Hou jou selfoon gereed en laai ’n foto of video op sosiale media  saam met die woord “#BraaiVirAnder” en staan ’n kans om ’n Bakkies the Butcher geskenkpak te wen.