Chris Blignaut

Chris Blignaut (*1897 – †1974) was ’n Afrikaanse sakeman, sanger en liedjieskrywer. Gedurende 1923 sing hy die eerste keer in Afrikaans op die verhoog met sy vertolking van “Daar oorkant die spruit”. Van toe af het hy die eerste uitvoerende kunstenaar geword van Afrikaanse ligte liedjies. Sy vyf reise deur suidelike Afrika in die jare dertig en veertig was van die mees geslaagde wat enige sanger nog onderneem het. Omstreeks 1923 het hy een van die eerste Afrikaanse sangers geword wat oor die radio uitgesaai is. In 1930 was hy die eerste Suid-Afrikaanse sanger wat ’n kontrak met ’n platemaatskappy aangegaan het. Blignaut kon ook daarop aanspraak maak dat hy die eerste Afrikaanse sanger was wat in kort rolprente vir die Afrikaanse silwerdoek opgetree het. Kort nadat sy eerste plate in 1929 verskyn het, is hy deur African Films genader om in ’n aantal ‘praatprentjies’ op te tree. Hierin het liedjies soos “Ou tante Koba”, “Daar oorkant die spruit”, “Sarie Marais” en “O Boereplaas” bekend geword deurdat dit aan bioskoopgangers gespeel is.

Sy plate-opnames het vinnig toegeneem en is aanvanklik deur die Columbia-maatskappy behartig en daarna het opnames vir His Master’s Voice gevolg. In 1935 moes hy self na Engeland gaan om opnames te maak aangesien dit goedkoper sou wees as om die opnames in Suid-Afrika te maak en die plate in Engeland te laat druk as om die opnamemasjien na Suid-Afrika te laat kom. Die eerste liedjie wat hy in Engeland opgeneem het was “Hannetjie verjaar”. Uiteindelik is 250 liedjies op 150 kortspeelplate en 120 langspeelplate deur Trutone en Gallo uitgegee. Volgens ’n staat van 28 Maart 1931 het Columbia in een kwartaal 54 853 plate van hom verkoop. Van al sy liedjies het Blignaut se “Ou ryperd” en “O, die donkie” waarskynlik die gewildste immergroen Afrikaanse liedjies geword.

Met dié toekenning word erkenning gegee aan persone se besondere bydrae tot die uitbou en ontwikkeling van Afrikaanse ligte musiek.

2023

Alabama Studentegeselskap