Mediaverklaring

18 Februarie 2023

Die FAK bemagtig skole om hulle eie skoolkoerant saam te stel

Op 18 Februarie het die Federasie van die Afrikaanse Kultuurvereniging (FAK) ’n skolekoerantslypskool by die Voortrekkermonument aangebied vir ongeveer agt skole regoor Pretoria.

Verskillende sprekers het lesings vir die kinders en onderwysers aangebied. Onder hierdie sprekers was Nico Strydom, redakteur van Maroela Media wat veral insig oor die gebruik van digitale media gedeel het.

Seugnet van Zyl van Netwerk24 het die kinders meer vertel oor die skryf van ’n mediaverklaring. FC Pelser, kommunikasiebeampte van die Voortrekkermonument (VTM), het meer vertel oor die uitleg van ’n koerant. Jhua-Nine Wyrley-Birch, joernalis van Maroela Media, het die skole toegespreek oor fotojoernalistiek.

Die tema vir die slypskool was “digitaal of gedruk?”. Volgens Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die VTM, is hierdie tema vandag baie relevant, omdat beide mediums steeds deur verskillende lesers aangehang word.

“Gedrukte media is steeds ongelooflik belangrik. Mense soek daardie sintuiglike interaksie. Die teenkant van gedrukte media is dat digitale media die toekoms is,” sê Pretorius.

Strydom het met die lesers gedeel dat elke koerant, gedruk of digitaal, se grootste uitdaging is om betroubare inligting te deel. “Die voordeel van digitale media is dat lesersdata maklik getrek kan word en foute makliker reggestel kan word, maar digitale media hou baie meer etiese kwessies as gedrukte media in.”

Die leerders en onderwysers van die verskillende skole het met aandag na elke spreker geluister en insiggewende vrae gevra om op hulle eie betrokke koerant toe te pas.

“Die slypskool is vir my baie lekker. Ek leer so baie,” vertel Zanelle Vermoolen van Laerskool Lynnwood.

Karin Strydom, departementshoof van Afrikaans sê: “Die FAK het baie oulike idees en ons het vandag verskriklik baie by julle geleer.”

“Die hart van joernalistiek begin by ’n gemeenskapskoerant,” sê Pretorius. Die FAK is trots daarop dat ons joernaliste van die toekoms kan help oplei en skole bemagtig.

Lieandri Ackermann, projekbeampte by die FAK, vertel dat die FAK nog vele opwindende slypskole en projekte vir die jaar beplan. Skole kan meer inligting hieroor kry op die FAK se sosialemediabladsye en webblad.