Mediaverklaring

1 Maart 2023

 

Die FAK vier ’n dekade van Internasionale Afrikaans-Ekspo inskrywings

Trek jou kreatiewe baadjie aan, want die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Internasionale Afrikaans-Ekspo se tema is uiteindelik bekend!

Vir nege jaar toets dié tema nou al die kreatiwiteit van ons Afrikaanse jeug en ons is verál opgewonde oor vanjaar se tema en om in die Ekspo se tiende jaar, te sien hoe ons rekord-inskrywings verwerf.

So wat is die tema?

“Die FAK se Internasionale Afrikaans-Ekspo fokus op die ontwikkeling van die Afrikaner. Die fokus is op taal, kultuur en geskiedenis en die besondere tema belyn al drie hierdie fasette,” verduidelik Esté Cilliers, projekbeampte van die skoleprojekte by die FAK.

“Ons vier vanjaar 185 jaar van die Groot Trek. Daar is pittige woordspelings met die woord ‘trek’ om in letterlike of figuurlike verband opgeneem te word. Soos wat toutrek eie is aan kultuur, wat hierdie tema wyd laat strek, of moet ek eerder sê, trek.”

Met ’n tema soos “trek” kan ons net uitsien na die magdom projekte, kunswerke, gedigte, kuns, liedjies, foto’s en vele meer wat ingeskryf gaan word. Dis net jou verbeelding wat jou inperk.

Met vandag se moderne vervoersisteme is mense gedurig besig om oral heen rond te trek. Dink maar aan emigrasies, verhuisings en selfs die swaweltjies wat op reis gaan. Wanneer ’n mens trek, is dit ook ’n moontlikheid vir ’n nuwe begin, nuwe plekke en nuwe dinge.

Die lekker ding van Afrikaans is dat woorde soos trek meer as een betekenis kan hê. Daar is baie moontlikhede vir interpretasie. Daar is tien kategorieë waarin jy die tema trek vir ons op jou eie kreatiewe manier kan uitbeeld. Gaan grou daardie potlode en verf uit, skuif agter die rekenaar in of neem jou kamera in die hand. Ons sien daarna uit om jou idee te sien!

Dink maar aan die liedjie van Bok van Blerk om jou kreatiwiteit te prikkel:

Jy sê dis tyd om te trek

Om jou hart te vat

Jy sê dis nie om ons uitmekaar te spat

Maar jou woorde aan my

Wil ek hier agter bly

Wie kan deelneem?

Afrikaans is ’n taal wat in baie lande gepraat word, daarom kan enige iemand, van enige plek in die wêreld, aan hierdie kompetisie deelneem.

Diegene van graad R tot en met die ouderdom van 25 wat lief is vir Afrikaans, is welkom om deel te neem. Dit beteken, al praat jy nie Afrikaans nie, of al is dit nie jou moedertaal nie, kan jy steeds deelneem.

Wat is die kategorieë?

Van graad R tot 3 kan vir voordrag en kuns inskryf. Verder kan ons jong kunstenaars van graad 4 tot 5 inskryf vir die kategorieë van fotografie, poësie, voordrag, lirieke en kuns. Die graad 6’e tot die ope afdeling (tot en met die ouderdom van 25), kan aan al hierdie afdelings deelneem en ook nog die volgende kategorieë: dagboekinskrywing, resensie, opstel, kortverhaal en grafiese ontwerp.

Wat kan jy wen?

 

Daar is groot pryse op die spel vir elke graadwenner.

Die graad R tot 3-wenners ontvang elkeen R300, die graad 4 tot 12-wenners verdien elkeen R500 prysgeld, terwyl die ope afdeling se wenner R1000 prysgeld kry.

Skole kan ook lekker wen met dié kompetisie. Die skool met die meeste inskrywings, elk vir ’n laerskool en vir ’n hoërskool, kan R3000 prysgeld kry.

Hoe neem jy deel?

Indien skole in skoolverband deelneem, is daar ’n registrasietydperk wat 1 Maart 2023 open waar skole dan as groep kan registreer. Die sluitingsdatum vir groepregistrasies is vir laerskole 31 Maart 2023 en 3 April 2023 vir hoërskole.

Individuele registrasies open 12 April 2023, saam met die inskrywings.

Alle inskrywings kan aanlyn ingedien word, behalwe kunswerke wat by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument ingedien moet word.

Let wel, slegs groepregistrasies word vooraf gedoen. Individue kan tydens die inskrywingstydperk registreer.

Gaan besoek gerus www.projekte.co.za vir meer inligting.