Mediaverklaring:

Dringende ingryping deur die FAK en gemeenskap

 

18 Februarie 2023

Udolpho Rivierplaas aan voorpunt van veiligheid

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het pas Udolpho Rivierplaas, die FAK se vakansieplaas langs die oewer van die Vaalrivier in Parys, ontruim weens die reën.

“Die veiligheid van ons gaste en personeel van die FAK en Udolpho Rivierplaas is topprioriteit,” sê Marné Scholtz, woordvoerder van die FAK.

“Die bestuurders op Udolpho het die watervlak oor die laaste paar dae dopgehou en het vroeër vandag besluit dat ons nie die lewens van ons gaste en personeel in gevaar wil stel nie,” het Scholtz uitgebrei.

Personeel op Udolpho het gaste by die verskeie punte van veiligheid bymekaar laat kom. Hiermee saam is daar ook in verbinding getree met ander boere in die omgewing om te bepaal of daar ook ondersteuning verleen moet word.

Lede van die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk in die Vrystaat het ook ingespring en hand bygesit om die veiligheid van die gemeenskap te verseker.

“Op hierdie stadium is die rivier geweldig sterk,” verduidelik Petre Theron, bestuurder van Udolpho Rivierplaas.

“Ons tree tans proaktief op deur ons gaste te waarsku, in verbinding te tree met die nabye gemeenskap en deur sandsakke te pak,” gaan Theron voort.

“Die rivier is in vloed,” sê Theron, “maar die situasie is onder beheer en niemand se lewens is in gevaar nie.”

Volgens Theron gaan daar na verwagting nog ’n 250 mm – 300 mm styging in die watervlak plaasvind, wat volgens Theron waarskynlik nie eers die kampterrein sal oorvloei nie.

Hierdie word bepaal deur die Joint Operation Centre (JOC) en inwoners wat al lewenslank in hierdie gebied woonagtig is, bevestig ook hierdie feit.

Daar is tans twaalf sluise van die Vaaldam oop, waarvan twee vandag en vier gister (17 Februarie) oopgemaak is. Met verlede jaar se reën is daar tot en met 8 sluise van die dam oopgemaak. Dit is die eerste keer sedert 2011 wat 12 sluise oopgemaak is.