Deur Seugnet van Zyl

In hierdie tyd van afsondering, is dit veral Suid-Afrikaanse kunstenaars wat swaarkry.

Weens die verpligte tuisinperking om die Covid 19-pandemie hok te slaan, is verskeie kunstenaars se konserte af- of uitgestel en diegene wat binnekort by feeste sou optree, is ook van die baan.

Die FAK het by Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop, gaan inloer om te hoor wat sy tydens die grendelstaat doen.

Alexa Strachan

“Ons wêreld verander teen ’n tempo wat nog nooit voorheen deur enige van ons beleef is nie. Wat ’n mens vandag besluit, kan môre irrelevant wees. Ons gaan waarskynlik wêreldwys in die toekoms verwys na die tyd vóór, en die tyd ná die virus. (Terloops, hierdie is een van die min kere wat ek voel mense gebruik die woord krisis korrek. Ons was in die verlede baie vinnig om die woord ligtelik in te span), sê Alexa.

“Daar is tans baie angs in die kunstenaarsgemeenskap, en hierby sluit ek die sangers, akteurs, tegnici, diensverskaffeers, skoonmakers in. Daar is derduisende wat betrokke is, en ’n inkomste sou verdien uit konserte. Baie van hierdie vryskutmense lewe letterlik van die hand na die mond (soos ook mense in ander bedrywe soos bv. kelners, informele handelaars ens). Ons hoop natuurlik dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsteraad (NAC) en ander organisasies redelik vinnig ten minste ván die mense sal kan bystaan, want sommige het laat weet dat hulle nie eers hierdie maand hul huur sal kan betaal nie. Kaartjiekopers van konserte en feeste soos KKNK wat gekanselleer is, vra ook hul geld terug.”

Sy sê daar is ook empatie en medemenslikheid, “wat werklik hartroerend is”.

“Dit gesê, hoor ek ook van individuele kunspraktisyns wat laat weet: ‘My huiseienaar het laat weet dat hy finansieel tans sterk genoeg is, ek hoef dus nie my huishuur die maand te betaal nie’.”

Oor Aardklop spesifiek:

Alexa sê teen die agtergrond van die KKNK se kansellasie, sowel as die Vrystaat Kunstefees en Suidoosterfees se uitstel, is dit al hoe meer belangrik dat Aardklop sal voortgaan. “Kunstenaars, tegnici, diensverskaffers, stalletjiehouers ens se finansiële oorlewing is hier ter sprake.” 

“Die kunste het ’n rol om te speel in mense se emosionele en psigiese welstand. Dit was nog altyd so, en sal so bly. Gesien in dié lig gaan ons dus volstoom voort om Aardklop 2020 te beplan. Ná afloop van hierdie krisis sal mense uitsien na samesyn, en die sinvolle viering van wat ’n fees soos Aardklop bied: vermaak, besinning, en pitkos vir die siel.  

“Ons sal natuurlik aanpas soos wat dit nodig en moontlik is. Maar tans is ons boodskap: Einde September lei alle paaie na Potchefstroom!”