FA Venter

FA Venter se onmeetbare bydrae tot Afrikaans en letterkunde kan nouliks oorskat word. As skrywer het hy oud tot jonk geïnspireer en verhale van die geskiedenis so vertel dat enige ouderdom daarby kan aanklank vind. Sy boeke is onder meer in Duits, Engels, Sweeds, Nederlands en Spaans vertaal.

 

FA Venter se vier historiese romans oor die Groot Trek, Geknelde land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde land is die resultaat van deeglike navorsing wat jare moes geneem het. Deur hierdie monumentale werke vertolk Venter op ’n briljante en eg menslike wyse die lyding, opoffering, keuses, worsteling, vraagstukke, kantelpunte, hoop, geloof, ideale, smart en stryd aan die hand van die Dreyer-gesin se belewenisse op die trekpad. Hierdie vier boeke is ’n Voortrekkermonument in eie reg. Tesame met Wit oemfaan, Rentmeesters, Kambrokind, Die middag voel na warm as, Man van Cirene, Die koning se wingerd, Werfjoernaal en Die dag toe ek my naam vergeet het, het die meesterwerke ’n ereplek op baie Afrikaners se boekrakke. Sy vasbeslotenheid en innerlike krag is opvallend in die biografiese boeke wat hy oor sy eie trekpad geskryf het. Soos met baie Afrikaners van sy geslag het swaarkry en armoede nie van hulle slagoffers gemaak nie, maar hulle menswees sterker gebeitel en karakter gevorm.

 

Met dié toekenning word erkenning gegee aan persone se besondere bydrae tot die uitbou en ontwikkeling van Afrikanergeskiedenis deur geskiedskrywing.