Die FAK se Jeugsimfonieorkes en die Akademia-koor het hande gevat en gaan op die 16de vandeesmaand ’n gesamentlike konsert aanbied in die majestueuse Voortrekkermonument (VTM) se Heldesaal.

Dit is die eerste keer wat twee Afrikaner- bastion organisasies saamkom om ons kulturele musiekerfenis te bevorder en uit te bou. Hierdie konsert sal die FAK Jeugsimfonieorkes se tweede publieke konsert wees.

Jaco van Staden, die FAK se projekbestuurder van musiekprojekte, is ook die orkesbestuurder en dirigent. Van Staden vertel dat hierdie samewerking met die Akademia-koor vir beide instansies groot ontwikkeling bied.

“Die feit dat ons twee verskillende tipe konserte so naby aan mekaar kan uitvoer, wys op baie groei en aanpasbaarheid, en die feit dat ons nou al met ’n koor kan saamwerk, wys op volwassenheid in ons jeugsimfonieorkes,” sê Van Staden en verduidelik dat orkeslede fyner moet luister wanneer daar met ’n koor saamgewerk word vir ’n uitvoering.

Die Jeugsimfonieorkes het op 24 Maart hul bekendstellingskonsert uitgevoer en beplan om later vanjaar deel te neem aan die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, waarvoor dié konsert saam met Akademia, dien as ’n fondsinsameling.

Musiek is diep gewortel in die Afrikanerkultuur en die heel eerste vries in die VTM-Heldesaal bevestig die Afrikaner se liefde vir musiek. Selfs met die Groot Trek en die uitdagings wat ons voorouers in die oë gestaar het, is daar musiek gemaak, gedans en gesing. Op die eerste vries verskyn ’n toneel van Oosgrens-burgers wat hul lewens oppak vir die trek en instrumente is iets wat nie agtergelaat word nie.

Petria Zeevart is die orkesmeester van die FAK se Jeugsimfonieorkes en vertel dat, alhoewel die orkeslede nog nie so lank saam speel nie, hulle saam ontwikkel en groei. “Hoe meer ons saam speel, hoe beter speel ons saam,” verduidelik Zeevaart.

Die publiek word hartlik uitgenooi na hierdie geleentheid en kaartjies vir die uitvoering kan by die volgende skakel gekoop word