Mediaverklaring

 

9 Maart 2023

 

FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo-deelnemer stel digbundel vry op 19

Amory Smith (19) skryf al stories vandat sy klein is. Nou word een van haar grootste drome waar.

“Ek het die voorreg gehad om van graad agt af te kon deelneem aan die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo en ek dink dis waar my liefde vir digkuns werklik begin het.”

Só sê Smith, wat jaarliks aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Internasionale Afrikaans-Ekspo deelneem en ook al ’n wenner in dié ekspo was.

Nou, op die jonge ouderdom van net 19 jaar oud, het Smith haar eie digbundel bekendgestel, Sielskos.

“Dit was my droom om my eie bundel vry te stel en hierin is al my beste gedigte vandat ek my eerste gedig geskryf het.”

Die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n kompetisie waar leerlinge en studente van regoor die wêreld kan deelneem en hul liefde vir Afrikaans en die kunste kan ten toon stel. Daar is jaarliks ’n nuwe tema wat die spreekwoordelike wiele aan die rol kry en die jaar se kunswerke, gedigte, foto’s, stories en so meer inspireer.

Smith, wat tans ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch is, vertel dat die titel van haar digbundel só gekies is, want dit is wat sy wil hê haar gedigte vir ander moet wees: kos vir die siel.

“My doel met hierdie bundel is om mense te verryk, mense se horisonne te verbreed. Eintlik om mense van voor af verlief te maak op die Afrikaanse taal,” sê Smith.

Sy vertel verder, “Ek kan glad nie in Engels dig soos in Afrikaans nie. Dis net Afrikaans wat só kan klink.”

Smith word geïnspireer deur die wêreld en mense rondom haar, dinge wat met haar gebeur.

“Die digkuns bied die geleentheid om jouself vas te vang in ’n ander wêreld, so anders as die een waarin ons woon. Net ’n oomblik met ’n koppie tee in die son waar jy ons pragtige taal kan geniet.”

Hierdie digbundel sal binnekort aanlyn te koop beskikbaar wees.

Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe die jeug aanklank vind by die Afrikaanse taal en hulself so mooi daarin kan uitdruk. Dit is mense soos Amory Smith wat die trotse fakkeldraers vir Afrikaans is. Haar storie is ’n inspirasie vir ander wat, soos sy, ook ’n verskil in Afrikaans wil maak.

Smith sê sy wil graag vanjaar weer aan die ekspo deelneem.