Mediaverklaring

14 Maart 2023

FAK Jeugsimfonieorkes, ’n resep tot sukses

Op Vrydag 10 Maart het 24 individue by die orkeskamer ingestap en net ’n dag en ’n half later het ’n orkes uitgestap.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Jeugsimfonieorkes het ter voorbereiding vir hul bekendstellingskonsert wat op 24 Maart 2023 in die Voortrekkermonument plaasvind, ’n naweeklange oefenkamp op Udolpho Rivierplaas bygewoon en sommer gou-gou bande gesmee.

Die vier komponente van ’n orkes, naamlik strykers, houtblasers, koperblasers en perkussie het byeengekom en in een naweek se oefening, gegroei tot een volwaardige orkes.

Jaco van Staden, die FAK se projekbestuurder van musiekontwikkeling en ook die dirigent van hierdie orkes, sê dat die kinders waarlik verantwoordelikheid aanvaar het vir die groot taak wat verrig moes word.

Dit is die eerste keer wat die hele orkes as een geoefen het voor hul eerste optrede later vandeesmaand.

As lede van die FAK Jeugsimfonieorkes is dit natuurlik belangrik om ook ’n goeie oorsig oor geskiedenis te hê en het dié kamp nie net bestaan uit harde oefening nie, maar ook ’n toer deur die Anglo-Boereoorlog-uitstalling wat op Udolpho te siene is.

Tussendeur die harde oefening en die geskiedenisles, is daar ook lekker gespeel en geswem, en selfs FAK-liedjies om die kampvuur onder die Vrystaat sterrehemel gesing.

“Die kamp dien weereens as ’n bevestiging dat die jeugsimfonieorkes ’n behoefte is vir beide jong musikante en hul ouers,” sê Van Staden. “Dit is iets wat oor die langtermyn net sal groei.”

Wat hierdie jeugsimfonieorkes aanloklik maak vir die jeug is die orkesrepertorium wat beoefen word.

Lieandri Ackermann, die jeugsimfonieorkes se orkesbestuurder, verduidelik dat dit juis aanloklik is omdat die musiek wat beoefen word van ’n hoë gehalte is wat gewoonlik eers op universiteitsvlak beoefen word.

“Die musiek wat ons beoefen, motiveer die kinders om harder te oefen,” sê Ackermann. “Die kinders het regtig ’n behoefte aan moeiliker musiekstukke en die FAK bied hierdie geleentheid.”

Petria Zeevart, orkesmeester, vertel dat die oefenkamp ’n reusesukses was.

“Dit was opvallend dat al die orkeslede goed oor die weg gekom het en nou een geheel is, in plaas van net individue,” sê Zeevaart.

Lede van die gemeenskap is genooi om op Sondag 12 Maart ’n konsert op Udolpho by te woon. Die terugvoer van dié konsert was positief en lede van die gemeenskap is optimisties oor die nuwe hoogtes wat die jeugsimfonieorkes gaan bereik.