Mediaverklaring

19 April 2023

FAK-Kultuurnetwerke spoor Voortrekkerbegraafplaas op; eer Voortrekkerhelde

Vanjaar is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) loods vanjaar vele projekte ter ere aan ons voorouers. As deel hiervan neem die FAK verantwoordelikheid van Voortrekkerbakens regoor Suid-Afrika en neem dit in beskerming.

Te danke aan lede van die FAK-Vaal-Kultuurnetwerk, waarvan die Suid-Afrikaanse Weermagvereeniging (SAWV), asook die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) deel uitmaak, kon die Voortrekkerbegraafplaas van kommandant Daniel Pieter Jacobs ’n nuwe baadjie aantrek.

Tydens ’n projek wat op 15 April plaasgevind het, is die Voortrekkerbegraafplaas, waar die kommandant van die Slag van Bloedrivier te ruste gelê is, in Vereeniging deur dié kultuurnetwerk en lede van die publiek opgeknap en skoongemaak.

Die FAK het te hore gekom van ’n Voortrekkerbegraafplaas op ‘n plaas in Vereeniging. Na ondersoeke van Kobie en Gys Ströh van die GGSA, asook Okkie Joubert van die SAWV, is die plaas opgespoor waarop die Voortrekkerbegraafplaas is en toestemming verkry om die begraafplaas op te knap.

“Hoe lekker is dit om hierdie stukkie geskiedenis te herontdek en die lig te skyn op so ’n belangrike gebeurtenis soos die Slag van Bloedrivier en die mense te eer wat daar betrokke was.”

Só sê Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK se kultuurnetwerke in die Noordelike provinsies.

Kommandant Daniël Pieter Jacobs, gebore in 1780, is een van die Trekkerleiers en was ’n kommandant tydens die Slag van Bloedrivier, waaraan hy en sy seuns deelgeneem het. Oorspronklik vanaf Beaufort-Wes, het hy en sy gesin deelgeneem aan die Groot Trek. Die trek vanuit Beaufort, met ’n kommando van sestig man, is volgens oorlewering die vyfde grootste trek wat die kolonie verlaat het en het later by Retief en Maritz aangesluit.

Okkie Jooste van die SAWV het verdere navorsing gedoen oor dié Voortrekkerbegraafplaas en het afgekom op foto’s van die opening van daarvan, tesame met die byskrifte daarvan.