Mediaverklaring

13 Mei 2023

’n Klein, dog magtige, groep vrywilligers het vroeg op 13 Mei hul grawe en spitvurke opgetel en saam met die FAK se kultuurnetwerke die Heldeakker in Pretoria opgeknap.

Die begraafplaas huisves grafte van groot name uit ons land se geskiedenis, soos Paul Kruger, HF Verwoerd, Pierneef en Eugène Marais en daarom wend die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gereelde pogings aan om hierdie historiese skat te bewaar en op te knap.

Quentin Meyer, ’n vrywilliger van die FAK se kultuurnetwerke in Pretoria, en die Voorsitter van die Noord-van-die-berg Afriforum Tak, het tydens die projek vertel dat dit belangrik is om ons land se geskiedkundige skatte te bewaar vir die nageslagte.

“Ons is al vir baie jare hier by die Heldeakker betrokke,” het hy gesê. “Ek dink dit is belangrik vir ’n gemeenskap om betrokke te raak by hierdie tipe projekte, want uiteindelik is dit niemand se plig om jou erfenis te bewaar en beskerm behalwe jou eie nie.”

Meyer is al vir jare betrokke by die FAK en verskeie ander kultuurorganisasies en sê hy hoop hierdie projekte motiveer en inspireer ander om ook ’n verskil te maak in hul gemeenskappe.

Hierdie naweek het ’n handjievol vrywilligers van AfriForum, Sytze Wierda Voortrekkerkommando en die plaaslike gemeenskap saamgekom om dié skoonmaakaksie te ondersteun en hoewel die span klein was, vertel Barry Müller, was dit ’n magtige span.

Müller, die FAK se kultuurkoördineerder in die Noordelike Provinsies, sê dit is vir hom ’n riem onder die hart om te sien hoe groot verskil ’n klein groep mense kan maak as hulle saamwerk.

“Die FAK het al telkemale bewys dat mens baie kan vermag as jy saamwerk en daarom is ons kultuurnetwerke regoor die land so belangrik,” het hy vertel.

“Vandag is ons byvoorbeeld ’n klein span, maar die passie, ywer en deursettingsvermoë wat elke vrywilliger ingesit het, het reeds ’n groot verskil gemaak. Ongelukkig is daar nog baie werk om hier te doen en daarom wil ons almal aanmoedig om ook hul hande op te steek en by ons toekomstige projekte betrokke te raak.”

Maak gerus kontak met jou naaste kultuurnetwerk om betrokke te raak by projekte soos dié.