Dit is ons erns

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke in die Kaap het vir die viering van Afrikaans as taal se 98ste verjaardag, wat op 8 Mei plaasgevind het, die Paarl-omgewing verken.

Hierdie area is die geboorteplek van Afrikaans as taal en waar die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) tot stand gekom het. Die kultuurnetwerk en hoërskoolleerlinge van die Voortrekkers het op ’n Taalpioniertoer gegaan om hulde te bring aan die pioniers wat erns gemaak het met Afrikaans as taal.

In die Paarl-omgewing is talle geskiedkundige bakens te vinde. So is daar besoek afgelê by Laerskool Paarl Gimnasium. Op inisiatief van ds. GWA van der Lingen is hierdie skool in 1858 opgerig as kerkskool met Nederlands as onderrigtaal. Arnoldus Pannevis, eerste yweraar vir Afrikaans, was hier onderwyser. ’n Plein op die skoolgronde word vandag Pannevisplein genoem. Ds. SJ du Toit se pastorie was ook in hierdie skool en sy seun, JD du Toit, beter bekend as die digter Totius, is hier gebore.

In dieselfde hoofweg is ook die Patriotgebou wat eens die drukkery gehuisves het waar talle Afrikaanse publikasies gedruk is. By die Strooidakkerk is die laaste rusplekke van ds. Van der Lingen, Arnoldus Pannevis en Gideon Malherbe, laasgenoemde een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners.

Dié ywerige Afrikaansliefhebbers het aangemeld by die huis van Gideon Malherbe, vandag bekend as die taalmuseum, by die tafel waar agt manne op 14 Augustus 1875 vergader het om planne te maak om ’n jong, nuwe taal, Afrikaans, te bevorder sodat die Bybel in hierdie taal vertaal kon word.

Hierna is daar na die buitewyke van Paarl en Wellington beweeg, na die plase waar sommige van die GRA-lede, SJ du Toit, DF du Toit, Petrus Malherbe en CP Hoogenhout gewoon en gewerk het en te ruste gelê is. Die Hugenote Gedenkskool, die eerste skool wat opgerig is vir Afrikaanse skoolonderrig, op die plaas Kleinbosch met leerlinge soos die digters AG Visser, DF Malherbe en Totius, het ook sy eie ryk verhaal.

Die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg is van ver af sigbaar, soos die argitek, Jan van Wijk, dit wou hê. Die groep sing die “Oukraalliedjie” binne by die waterpoel en die woorde weerklink in die hoofsuil op in suiwer, mooi Afrikaans.

“Soos jy op die paadjie by die trappe voor die monument afstap, staan die woorde, ‘Dit is ons erns’” sê Juanine Kok, kultuurorganiseerder in die Kaapprovinsie. “Ons het daar gestaan en weer teenoor mekaar bevestig hoe mooi die taal is wat ons praat, ’n jong taal, maar ’n taal ryk in woordeskat en ’n volwaardige akademiese taal wat nog nie eens ’n eeu oud is nie.”