Mediaverklaring

23 Februarie 2023

FAK vereer toekomsbouers van die Vrystaat

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het toekomsbouers in die Vrystaat vereer vir hul toegewyde werk op die kultuurfront.

In ’n pragfunksie wat op 22 Februarie 2023 plaasgevind het, is die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en sy direkteur, Tokkie Pretorius, vereer vir die rol wat dié uitmuntende museum in die Vrystaatse gemeenskap en selfs ook op nasionale vlak vertolk.

Tydens die funksie is ystervroue uit die gemeenskap ook vereer, onder meer die bekroonde joernalis en redakteur van Bloemnuus, Lientjie Mentz, Corlia Botha en Corrie Scheepers vir die verskil wat hulle in die jeug se lewens maak, verál deur hul werk in Die Voortrekkers. Verder is Marda Oosthuysen en Karn Botha, wat by Die Dameskring betrokke is, se werk tot die bemagtiging van vroue ook vereer.

“Die ‘Bittereinders’ is die manne met die ruggraat, die deursettingsvermoë en die ysterwil, soos De Wet en sy manne wat vir die Vrystaat se onafhanklikheid geveg het,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

“Vandag het ons ‘betereinders’ – mense wat hoop bring, mense wat op God vertrou, mense wat steeds bou aan die toekoms van die Vrystaat.”

Die FAK is dankbaar vir die gemeenskappe wat groei en diegene wat volhard in die werk wat vir jare op ’n klein skaal gedoen word, maar groei tot ’n groter impak wat die hele gemeenskap beïnvloed en opbou.

Met trots staan hierdie gemeenskappe sterk en onafhanklik, met diep wortels wat deurentyd groei.

Pretorius se hart en werk lê in die opbouing en bemagtiging van die jeug.

“Ons fokus is op die jeug. Tydens die Anglo-Boereoorlog is dit nie net vroue wat gesterf het nie, maar grotendeels kinders – byna 70% van die sterftes was kinders,” vertel Pretorius.

“Gryp jou geskiedenis aan,” is Pretorius se lewensmotto en advies wat hy aan die jeug sal oordra.

Karn Botha het die verkryging van hierdie toekenning vergelyk met die ontvang van ’n Grammy-toekenning.

Corlia Botha, wat as “kindervriend” beskryf word, het ’n blywende impak gemaak in die lewens van talle jongmense.

Haar boodskap vir die jeug is: “Vertrou op God en glo dat jy ’n verskil kan maak.”

Corrie Scheepers is dit eens en moedig die jeug aan om balans te vind in die lewe, want só kan jy sukses behaal.

Wees trots op jou erfenis, op jou kultuur en moenie skroom om ook in te spring en te bou aan jou gemeenskap nie.

Die pragfunksie wat by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke plaasgevind het