Vir Fanus Pienaar is musiek maak deel van wie hy is. Sy nuutste enkelsnit “John Deere hoed” is op 22 Mei op radio vrygestel en sal later vandeesweek op alle digitale platforms beskikbaar wees.

Fanus is al vir jare lank in die musiekbedryf en het treffers soos “Luister na jou hart” en “Vir my land” in die verlede vrygestel, en hy is nog lank nie klaar met musiek nie. Sy nuutste enkelsnit is reeds in die pyplyn!

“Die musiekgogga het my gebyt, ek kan nie ophou musiek maak nie,” vertel Fanus tydens ’n onderhoud.

Hy vertel dat hy inspirasie put vanuit sy eie lewe en die dinge wat met hom gebeur. So het dit toe nou ook gebeur met sy nuwe enkelsnit, waarin hy die storie vertel van die perfekte meisie – ’n regte boeremeisie.

In “John Deere hoed” skets Fanus die prentjie van die perfekte meisie. ’n Meisie met ’n hart van goud, maar wat nie bang is om haar hande vuil te maak, in te spring en te help boer nie – dis die meisie wat al die boksies tiek.

Hierdie lied se musiekvideo sal ook binnekort vrygestel word. Intussen, gaan luister bietjie na ’n kort lusmakertjie wat Fanus op sy sosialemediablaaie geplaas het hier. Fanus tree gereeld in die Pretoria-omgewing op. Besoek sy webblad vir meer inligting.

Fanus Pienaar