Mediaverklaring

15 April 2023

Gemeenskap spring in om Heldeakker op te knap

Die FAK se Moot-Kultuurnetwerk het op 15 April 2023, skouer aan die wiel gesit, hande gevat met lede van die gemeenskap en ingespring om die Heldeakker in Pretoria in stand te hou, na die maandelange verwaarlosing van die plaaslike regering.

Lede van die gemeenskap en van verskeie organisasies het in groot getalle opgedaag om hand by te sit en het trots hul hande vuil gemaak om hul erfenis te beskerm.

Tydens ’n onlangse besoek het die FAK bevind dat die gras heuphoogte groei, soveel so dat sommige van die grafte glad nie gesien of besoek kan word nie. Verder is daar vroeg in 2023 ’n gat in die muur gery, wat steeds nie deur die Tshwane-metroraad weer opgerig is nie.

“Vandag is weereens net ’n bewys van wat vermag kan word wanneer organisasies bereid is om hande te vat en te werk tot een gemeenskaplike doel,” sê Barry Müller, die kultuurorganiseerder van die FAK.

“Dis ’n vreugde om te sien hoe lede van die algemene publiek bereid is om hul hande diensbaar te stel en om saam met ons ’n toekoms vir ons erfenis te verseker deur hierdie erfenisbakens te onderhou,” gaan Müller voort.

Marina van der Westhuizen, ’n jong vrywilliger, het saam met haar man en suster hulself tot die taak gevoeg om die Heldeakker nie net in stand te hou nie, maar ook ’n plek te maak waarop ons kan trots wees.

“As ons dit nie self doen nie, wie gaan?” vra Van der Westhuizen.

Dit is mense soos sy wat ons hoop vir die toekoms van ons erfenis gee.

Afriforum se Noord van die Berg-tak het ook hand bygesit, asook die Rapportryers se Jakarandakorps.

Vir WL Roos, die lid van dié korps, is dit belangrik om by erfenisbewaring betrokke te wees.

“Ons harte is hier,” sê Roos. “As ons hier vir ons kinders en vir almal kan wys, dat dít is waar ons vandaan kom en ons herkoms opbou, kan ons voortgaan en die toekoms bou.”

Die Tshwane Metroraad het in die afgelope week die lang gras getem en die vrywilligers het met die skoonmaakaksie gras gehark, rommel weggegooi, skoongemaak en netjies gemaak.

Robert Manganye van die Tshwane-Metroraad het die skoonmaakaksie bygewoon, saam gewerk en ’n hand uitgereik om uit te vind wat die FAK se behoeftes is.

Die FAK sal op hoogte gehou word oor die herbou van die muur.

Gerrie Kotze (76) het ook van die skoonmaakaksie te hore gekom en het ook sy Saterdag opgeoffer om hand by te sit en wil graag meer doen vir erfenisbewaring.

“Elke een se bydrae sal sekerlik tel vandag.”

Die gras rondom die Heldeakker is tydens die skoonmaakaksie getem. Die FAK onderneem om die Heldeakker gereeld in stand te hou. Die volgende aksie gaan 13 Mei 2023 plaasvind.

Die FAK wil ook vir Dries Bekker van We Care Grave Maintenance bedank wat die graf van Generaal Nicolaas Jacobus Smit, ’n generaal tydens die Slag van Majuba, gerestoureer het. Die teks op die graf was onleesbaar en die graf is verfraai en netjies opgeknap.