Hulle stories maak ook saak.

Deur Seugnet van Zyl

As verhoog- en produksiebestuurder kry Yvette Hanekom gewoonlik die tegnici en span agter die skerms bymekaar en gereed vir ’n verhoogproduksie en/of televisieprogram.

Weens die Covid-19-pandemie kan sy nie nou haar werk doen nie.

Sy is onder meer die produksiebestuurder van die geselsprogram, Stories wat saak maak, met Coenie de Villiers as aanbieder. Stories wat saak maak, ’n reeks wat fokus op inspirerende inhoud wat vir Suid-Afrikaners nuwe hoop sal gee.

Elke episode is propvol goedvoelstories wat saak maak én ’n verskil maak. Coenie gesels met ons land se musikante, akteurs en bekendes oor die disse, plekke, mense en stories wat hulle na aan die hart lê.

Tydens die grendelstaat sou daar juis 10 episodes van Stories wat saak maak verfilm word.

Yvette sê gaste op dié program was tot die einde van die seisoen bespreek. Omdat daar vooruit gewerk word, was hierdie gaste se reis- en vlugreëlings klaar bespreek. Dít als moes met nasionale staat van inperking gekanselleer word.

“Teater- en televisiewerk is als gekanselleer of onbepaald uitgestel. Dit plaas ons in ’n benarde posisie. Die realiteit is daar is nou nie geld nie. Die tegnici en almal trek swaar. Dit doen iets aan jou psige.”

Sy vertel kunstenaars en tegnici werk hand aan hand saam.

“Ek het vaardigheid, maar nie die toerusting nie en andersom.”

’n Verhoogbestuurder verskaf gewoonlik praktiese en organisatoriese ondersteuning aan die regisseur, akteurs, ontwerpers, verhoogspan en tegnici gedurende die hele vervaardigingsproses van ’n teater- of verhoogproduksie. Yvette maak ook seker dat die produksie seepglad verloop. Haar rol is veral belangrik tydens repetisies.

Sy skeduleer die repetisies. Dit is sy wat seker maak dat almal betrokke by die produksie van repetisietye, vergaderings, kostuumpassings verwittig word. Sy woon self alle repetisies by waar sy seker maak dat die lig en klank reg is. Wanneer die produksie opgevoer word, bly dit die verhoogbestuurder se werk om seker te maak alles loop klopdisselboom. Dit sluit almal agter en voor die skerms in.

“Hierdie ding (korona-virus) kan jou lelik onderkry. Dit help nie ek gaan sit in sak en as nie, want almal sit in dieselfde bootjie,” skyn haar positiwiteit deur.

Sy sê al trek sy ook nou finansieel swaar, het korona haar ook dinge in perspektief laat plaas.

“Wat is swaarkry eintlik? Ek het nog ’n dak oor my kop en kos. Ander het dít nie eers nie.”

As “’n natuurlike empaat”, sê Yvette, is drukkies die ding wat sy die meeste tydens die verpligte inperking mis.

“Ek wil net iemand druk,” lag sy al te lekker.

Stories wat saak maak is op Maandae op 18:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.