JC “Jaap” Steyn (*1938 – †2021) was ’n joernalis, dosent in Algemene Taalwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit en professor-navorser in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Steyn het tientalle artikels vir vaktydskrifte gepubliseer, hoofsaaklik oor kultuurgeskiedenis, die eksterne geskiedenis van Afrikaans en Suid-Afrikaanse taalpolitiek. Hy ontvang onder meer die Ingrid Jonker en Eugène Marais-prys vir sy debuutdigbundel Die grammatika van liefhê (1975), die CJ Langenhoven-prys vir taalwetenskap (1988), die Elisabeth Eybers-beurs vir navorsing in Nederland (1996), die NP van Wyk Louw-medalje vir skeppende bydraes tot die ontginning van sekere vakgebiede (2000), die Stals-prys vir geskiedwetenskappe vir N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (2003) en die Louis Hiemstra-prys vir nie-fiksie vir Die 100 jaar van M.E.R (2005). Hy ontvang ook die Recht Malan- en Louis Luyt-prys vir die taalpolitieke studie Tuiste in eie taal (1981) en is die skrywer van Penvegter: Piet Cillié van Die Burger (2002) en die outobiografiese en kultuurhistoriese Sonkyker (2008).

Met dié toekenning word erkenning gegee aan persone se besondere bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.