Jan Christiaan Smuts is op 24 Mei 1870 gebore op die plaas, Bovenplaats, buite Riebeeck-Wes. Hierdie geboortehuis is vandag ’n nasionale gedenkwaardigheid en huismuseum. In hierdie nederige woning het die roemryke lewe begin van ’n man wat internasionaal impak gehad het en gerespekteer is, en Suid-Afrika se enigste veldmaarskalk geword het.

Op Sondag 21 Mei het personeel van die FAK se Kaapse Kultuurnetwerk ’n gedenkgeleentheid van die M.O.T.H (Memorable Order of the Tin Hats) vir Jan Smuts bygewoon. Gure weer het dit nie moontlik gemaak om die huldigingsgeleentheid voor die Smutshuis aan te bied nie. Na die verrigtinge in ’n nabygeleë lokaal het die FAK ’n krans gaan lê by Smuts se standbeeld in die tuin voor sy geboortehuis.

Jan Smuts was hoofkolonel van Regiment Westelike Provinsie, vandag die Generaal Jan Smuts Regiment. Tydens die huldeblyk is interessante feite oor veldmaarskalk Jan Smuts genoem. Hy het militêre medaljes ontvang van verskeie lande en was die Vryman van 17 groot stede. Eregrade is deur 18 bekende universiteite regoor die wêreld aan hom toegeken.

In 1948 het hy die kanselier van die Cambridge Universiteit geword en hierdie posisies tot sy dood 1950 beklee. Dit het hom die enigste buitelander gemaak om hierdie historiese en prestige posisie te beklee. Hy was ook kanselier van die Universiteit van Kaapstad en rektor van die St. Andrews Universiteit in Skotland.

As internasionale militêre leier was die loopbaan van Jan Christiaan Smuts merkwaardig. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was hy lid van die Imperiale Oorlogskabinet in Londen, die enigste nie-Brit wat dit ooit reggekry het. Hy het suksesvol Londen se verdediging teen Duitse lugaanvalle georganiseer. Dit het direk aanleiding gegee tot die vorming van Brittanje se Koninklike Lugmag in 1918, die oudste lugmag in die wêreld. By die Vrede van Versailles het hy gewaarsku dat die terme wat aan Duitsland opgedwing is, aanleiding sou gee tot nog ’n wêreldoorlog en hy was reg.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy eerste minister van Suid-Afrika, bevelvoerder van die Uniemag en lid van die Britse oorlogskabinet. Op 28 Mei 1941 is hy aangestel as veldmaarskalk in die Britse weermag, die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie rang beklee het.

Hy het toegesien dat die staat pensioen betaal aan weduwees wat mans en seuns verloor het tydens die twee wêreldoorloë. Dit was Jan Smuts se idee om die Britse Ryk te verander na die Britse Statebond van Nasies.

Ons onthou die lewe van ’n man wat geniaal was, internasionaal gereken en gerespekteer was as staatsman en militêre leier, ’n regsgeleerde, administrateur, wetenskaplike en filosoof wat ’n lewe gelei het van diens, beide tydens vrede en oorlog.