Hoërskool Jan van Riebeeck, ’n Afrikaanse hoërskool teen die hange van Tafelberg, is ’n skool met ’n ryke geskiedenis en trotse tradisie. Onlangs het leerders van hierdie skool saam met die FAK gaan stap in Kaapstad om meer die wete te kom oor die einste Jan, na wie hul skool vernoem is. Op ’n granietvoetstuk van 4 meter hoog staan die standbeeld van Jan van Riebeeck sedert sy onthulling op 8 Mei 1899 in Adderleystraat.

Die groep ontmoet die FAK se toerleier op Thibault-plein wat, lank gelede as Roggebaaistrand met sy vissermanne en -huisies bekend was. Vandaar gaan staan die groep ’n wyle stil by Bartholomeus Dias se standbeeld, wie na regte die seeroete om die suidpunt van Afrika na die Ooste, oopgemaak het vir die VOC (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie). Verdere gebeure hierna baan oor tyd die weg vir die koms van Jan van Riebeeck in 1652 soos die uitbreek van die Tagtigjarige Oorlog tussen Nederland en Engeland teen Spanje, wat tot die sluiting van die Portugese hawens vir Nederland gelei het en tot die stigting van die Nederlandse handelsmaatskappy, die VOC, op 20 Maart 1602, en die stranding van die skip die Nieuwe Haerlem in Blouberg-omgewing in 1647.

Die groep stap ook by die ander historiese bakens van hierdie staproete verby, soos die oorblyfsels van die Wagenaar-reservoir wat deur kommandeur Zacharias Wagenaar laat bou is om vars water uit ’n bergstroom te kanaliseer vir die nedersetting en verbygaande skepe en Groentemarkplein waar bemanningslede en inwoners saamgekom het om vars vrugte, groente en water te kry.

Die Van Riebeeck-familiewapen se kenmerkende drie sirkels is opmerklik in die stadswapen van Kaapstad wat op ou historiese geboue in die stad aangebring is. Hierdie ringe verskyn ook in die skoolwapen van Jan van Riebeeck Hoërskool se skoolwapen. Jan van Riebeeck was rusteloos, energiek met groot werksvermoë. Hy was pligsgetrou en ’n regverdige leier, hy het opdragte stiptelik uitgevoer en take met groot optimisme aangepak. Iets wat ons van hom kan leer. Geen wonder dat die kernwaardes van Hoërskool Jan van Riebeeck ook trots, respek, eerlikheid, verantwoordelikheid, regverdigheid, medemenslikheid, betroubaarheid en volharding is nie.

Kontak vir Juanine Kok by juanine@kultuurtuiste.org.za om aan te sluit by ’n Kaapse kultuurnetwerk en inligting te ontvang van uitstappies en stappe wat ons onderneem om ons kultuurerfenis te herontdek saam met ander vir wie dit ook belangrik is.