Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is nie net die oudste Afrikaanse kultuurorganisasie nie, maar neem ook ander Afrikaanse kultuurorganisasies onder sy vlerk en wil ‘n vlam van hoop vir Afrikaners wees. Die FAK is reeds in 1929 gestig, daarom is geskiedenis vir ons belangrik, maar die FAK het ‘n toekomsvisie en wil vandag en môre in die moderne tydsgees ook ‘n verskil maak. Na al die jare is die FAK steeds die organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en die mooi van jou kultuur te vier. Die FAK bied wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur wil ons trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

DIE FEDERASIE VAN AFRIKAANSE KULTUURVERENIGINGE

By die FAK kyk ons nie terug nie, ons vier die verlede en bou ons toekoms daarop. Die TOEKOMS rig telkens aan kultuurgemeenskappe ’n uitnodiging om hulself en die wêreld rondom hulle te vorm en ons sal antwoord op die roepstem.

Dieselfde is waar vir die Afrikanergemeenskap. Soos klanke uit die natuur ’n musikant inspireer om ’n nuwe lied te skryf, só nooi die toekoms ons om dit wat ons na aan die hart lê weer en weer te vorm. Dit sluit dinge in soos ons ekonomiese welstand, ons veiligheid, ons gesinne, ons onderwys en universiteite en ons politieke toekoms.

Die FAK staan al vir jare op die voorgrond van vernuwing en die vorming van ons kulturele erfenis en neem al vir drie en negentig jaar aktief deel aan die beskerming en bewaring van hierdie ryk erfenis. Vandag is ons steeds die hartklop van ons taal, kultuur, en geskiedenis en bou ons ’n baken van hoop vir die toekoms.

Waarom kan ons dit sê? Omdat die FAK van vandag weet dat hy deur dieselfde oortuigings en roepingsbesef onderlê word wat ons voorouers in staat gestel het om destyds vorm aan ons wêreld te gee.