Die naam Mitha Lubbe is oor die afgelope paar weke op almal se lippe na haar weergawe van Johannes Kerkorrel se trefferlied, “Hillbrow”, die rondtes op sosiale media begin maak het.

Mitha is ’n sangeres uit Pretoria wat vanjaar deel is van ’n groep hoopvolle sangers wat hul inskrywings vir die gewilde musiekkompetisie Die Kontrak op sosiale media ingedien het en as die reaksie op haar video enigsins ’n aanduiding is, gaan sy nog diep spore trap in die Afrikaanse musiekkringe.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge het ook die video raakgesien en haar genooi om dié lied, wat ook in die 2012-Sangbundel verskyn, by ons kantoor by die Voortrekkermonument te kom sing, wat volgens Mitha “enige kunstenaar se droom is.”

“Dit is reeds ’n eer om te weet dat soveel mense al my video gesien het en daarby aanklank vind, so om hier by die FAK kantoor te kon sing, op die klavier waarop verskeie FAK-Sangbundels saamgestel is, voel amper onwerklik,” het sy vertel.

As ’n boorling van Newcastle, Noord-Natal, sing Mitha al van so lank as wat sy kan onthou, maar die liedjie-skryf-gogga het haar eers op skool gebyt en sedertdien kyk sy nie terug nie.

“Ek het nog altyd musiek gemaak,” het sy vertel. “Vir so lank as wat ek kan praat, het ek gesing en soos ek ouer geraak het, het die lewe gebeur en het ek liedjieskryf ontdek. Ek het op skool geskryf om met die lewe te ‘deal’ en nou skryf ek want dit laat die lewe sin maak.”

Na skool het sy klassieke musiek studeer aan die Universiteit van Potchefstroom en ook ’n Drama-graad by die Vrystaatse Universiteit aangepak. Na Universiteit het sy ’n nuwe passie ontwikkel vir klasgee en het sy haar liefde vir musiek oorgedra aan ’n jonger geslag musikante.

In 2012 het sy haar korporatiewe hoed tydelik opgehang en voltyds op haar musiek begin fokus. Dit is toe dat sy haar verhoog alter ego “The Catharina,” ontdek en met haar oorspronklike Engelse musiek verhoë regoor die land aan die brand sing, tog het haar liefde vir Afrikaanse musiek ’n groot deel van haar gebly en het sy gereeld op die verhoog die musiek van groot legendes soos Koos du Plessis begin sing. Dit is ook só wat sy begin het om Johannes Kerkorrel se musiek te sing.

“Ek het besluit om ‘Hillbrow’ te sing vir my oudisie want ek stap al ’n lang pad met die lied. Ek dink dit resoneer met almal – die geskiedenis wat daaraan gekoppel is, spreek boekdele. Dis nie net ’n lied nie; dit is ’n storie wat ons almal ken, dit is in ons geskiedenis deurweef. Ek dink werklik dit kan nie net beskryf word as ’n lied nie, maar ’n gevoel.”

Die meisie met die blou hare en die sagte oë is nie net nog ’n sanger nie, maar ’n kunstenaar in die volle sin van die woord en definitief iemand om dop te hou.