Die Solidariteit Beweging hou vandag (7 April) ’n aanlyn Helpmekaardag. Die doel van die dag is om ’n reusehelpmekaarpoging te loods deur die krag van die gemeenskap in te span om mense in maatskaplike nood te help, om sakeondernemings te ondersteun en om kinders te help sodat hulle steeds kan skoolgaan gedurende hierdie onsekere tye. Die dag sal ten bate van die Solidariteit Beweging se noodfonds wees.

Ná die 1914-rebellie was die land deur absolute armoede en swaarkry getref. Die rebellieskuld en -boetes, wat in Transvaal en veral in die Vrystaat enorme bedrae beloop het, moes terugbetaal word. Aanvanklik het elke kommando sy eie skuld probeer betaal, maar selfs ná duisende onselfsugtige bydraes was die skuld nog meer as honderd duisend pond. Op 10 November 1917 is ’n Helpmekaardag deur die Unie gevier om hierdie nood te verlig.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê: “In 2020 word Suid-Afrika getoets deur een van die grootste uitdagings nóg vir hierdie geslag. Mense kry nie salarisse nie. Daar is kostekorte. Oumense is in nood en kinders en ouers moet plan maak met skoolwerk.”

Die FAK, wat ook deel is van die Solidariteit Beweging, het gister ’n boodskap ontvang van ’n juffrou in die weste van Pretoria wat in die verlede aan een van die FAK se skoolprojekte deelgeneem het.

“Ons het 30 gesinne wat kos benodig. Ons het R6 000. Dit is R200 per gesin, waarvan die gemiddelde getal 5 per gesin is. Dit is 133 mense wat moet eet.”

Armoede is die waarheid. Dit is hier rondom ons en daarom nooi die FAK jou uit om vandag, 103 jaar ná die eerste Helpmekaardag, ’n bydrae te maak. Klik hier: krisisfonds.co.za

Meer oor die Helpmekaardag van 10 November 1917

Die Helpmekaarvereniging, wat gestig is om rebelleskuld te help vereffen, het hierin ’n groot rol gespeel. Op 11 en 12 Julie 1917 is ’n Helpmekaarkongres op Middelburg in die Kaap onder voorsitterskap van adv. HS van Zijl gehou, waarop die toenmalige stand van geldsake blootgelê is. Die feite was skokkend. Daar is toe besluit om ’n fonds te stig om so spoedig moontlik die rebelleskuld te help delg.

Op 10 November 1917 is Helpmekaardag deur die Unie gevier. Uit die besieling van die Middelburg-kongres is Helpmekaardae oral in die land gehou, met uitstekende opbrengste. Hierdie kongres was ook die inspirasie vir mnr. Japie de Villiers van die Paarl, wat met sy 500-pond fonds meegehelp het dat die rebelleskuld betaal en ’n oorskot vir volksake oorgehou kon word. Hy het aangebied om 500 pond aan die fonds te skenk indien nog 100 mense bereid sou wees om elk 100 pond by te dra. Dit het geweldige geesdrif vir die fonds ontlok. Die Afrikaner het homself herontdek – hy het ’n samehorigheidsgevoel ontdek, gebore uit die nood van die volks- en landsgenote.

Kom ons maak vandag wéér só.