Titel: Druk speel: ’n Filmstudiegids vir die klaskamer

Outeur: Leon van Nierop

Lapa Uitgewers

Vir baie mense is daar niks lekkerder as om in hul vryetyd hulself uit te strek op die rusbank, na die televisie beheerkontrole te strek en heelaand, heeldag, ondeurdag na die skerm te staar nie.

Druk speel deur Leon van Nierop is nie vir daardie mense nie. Hierdie boek is vir diegene wat kiertsregop voor die televisie sit, met aandag alles inneem en vir ’n dag of twee na die tyd nog daaroor tob. Druk speel is vir jong, kritiese filmkykers, skrywers en resensente.

Leon van Nierop se naam kan nie van films geskei word nie. Daar is sekerlik nie ’n beter persoon om ingewikkelde konsepte maklik te verwoord vir ’n jonger teikenmark nie. Die groot gebruik van visuele voorbeelde is insiggewend en gee die boek ’n praktiese element. Verder is die publikasie ook deeglik saamgestel – alle aspekte van film word oorhoofs gedek: vandat die draaiboek geskryf word tot waar die resensie oor die film verskyn.

Die verskillende kameraskote word goed van mekaar onderskei. Die Afrikaanse terminologieë vir filmdialek word hoogs verwelkom, aangesien Afrikaanse filmterminologieë nie algemeen bekend of altyd maklik verkrygbaar is nie. Boonop word die Engels in hakkies geplaas om verwarring te voorkom.

Die algehele uitleg en visuele aantrenklikheid van die publikasie maak dit geslaagd vir ’n klasgids. Die goeie visuele voorstellings dien soms ook as lusmakers om sekere films te kyk. Dit is veral ’n pluspunt dat al die voorbeelde kom Afrikaanse films kom! Al die toetste en oefeninge in die gids dien as relevante materiaal om in die konsepte in te skerp. Hierdie filmgids is nie net bruikbaar vir skoolleerders en onderwysers nie, maar vir enige iemand wat film wil bestudeer. Die subopskrif van hierdie publikasie kan ook wees: ’n Beginner se gids tot filmstudies.

Dit is ook gepas dat verskillende loopbane in die filmbedryf gedek word. Dit gee leerders wat dalk in die bedryf belangstel ’n oorsig van wat die verskillende beroepe behels.

Agter in die gids is daar ’n praktiese skryfhandleiding om ’n filmresensie te skryf. Die voorbeeldsinne en voorbeelde van resensies help die leerder om ’n beter begrip te hê en sy/haar resensie met die voorbeelde te kan vergelyk. Dit is ook gepas dat elke resensie binne die voorgeskrewe woordaantal van die skole val. Leon van Nierop se resensies verskyn ook heel agter in die boek en die studiegidsvrae is hierop gebaseer.

Druk Speel is nie net bruikbaar vir onderwysers en leerders van skole nie, maar ook vir studente, dosente, resensente, draaiboekskrywers en enige iemand wat meer oor die praktyk van films wil leer. Druk Spee is ’n Uitstekende Afrikaanse filmhandleiding en daar is min van sy soort op die mark. Hierdie boek is beslis ’n moethê vir enigiemand wat in enige aspek van film belangstel.