Nico Tromp

Nicolaas Cornelius Tromp is op 13 April 1949 in Windhoek gebore. Nadat hy gematrikuleer het aan die Windhoek Sekondêre Skool behaal hy die graad BCom aan die Vrystaatse Universiteit. Vanaf 1974 werk hy by NICTUS BEPERK en dien sedert 1979 as besturende direkteur en voorsitter van verskeie direksies van die NICTUS-groep. In 1998 brei die NICTUS-groep hulle sakebelange uit na Suid-Afrika en dien hy ook as besturende direkteur van NICTUS RSA. Hy dien ook as voorsitter van die Veritas Eksekuteurskamer, direkteur van NICTUS Holdings Beperk in Namibië en op verskeie trusts vir 25 jaar. Hy is ’n stigterslid van die Namibiese Effektebeurs en dien ook na onafhanklikheid as voorsitter van die uitvoerende komitee van die Namibiese Effektebeurs vanaf 1994–1997. Vandag is die Namibiese Effektebeurs steeds die tweede grootste in Afrika. Ten tye van sy aftrede in 2016 was hy die langsdienende CEO op die JSE en Namibiese Effektebeurs. Hy is lid en voorsitter van die Afrikaanse Sakekamer in Windhoek vir 15 jaar. Op kerklike terrein dien hy as lid en ondervoorsitter van die finansiële komitee van die NG Kerk Sinode in Namibië en dien as lid van die kerkraad van Windhoek-Eros vir 14 jaar.

 

Op kulturele terrein was Nico die eerste Presidentsverkenner van Die Voortrekkers in Namibië. Hy dien as konsultant en finansiële adviseur van Die Voortrekkers in Namibië en ontvang die Orde van Vriend van Die Voortrekkers. Met behulp van sy strategiese leiding en finansiële kundigheid het Voortrekkerbates soos Trekkersbron vir Afrikanerkinders behoue gebly. In September 2013 is hy eenparig deur die hoofbestuur aangewys as hoofbeskermheer van Die Voortrekkers. Hy dien in die amp tot sy afsterwe op 27 Junie 2021. Onafhanklikheidswording het vir die Afrikaners in Namibië geweldige implikasies gehad. Gevestigde Afrikaanse kultuurorganisasies het oornag uit Namibië onttrek. Soos wat die Suid-Afrikaanse weermag uit Namibië onttrek het, het die getalle van Afrikaners dramaties gekrimp. Afrikanererfenisterreine het verlate en leeg gestaan en oor tyd verwaarloos. Afrikaanse en ander regeringskole was verplig om uitsluitlik Engels as onderrigtaal te begin gebruik.

 

’n Klein groepie Afrikaners het egter besef dat Afrikanerkultuur en -erfenis nie langtermyn bewaar en uitgebou sou word in Namibië nie. Onder die voorsitterskap van Nico Tromp (2006–2011) en die betrokkenheid van Afrikanerleiers soos Callie Opperman, Polla Steyn, Ernst Stals en Jurie Viljoen, is die organisasie Netwerk vir Afrikanerbelange gestig. Netwerk het uitgereik na die enkele oorblywende Afrikaanse organisasies en begin om die werksaamhede te koördineer. Daarby het Netwerk Afrikanereiendomme en finansiële bates in Namibië gekonsolideer deur die Selfhelp Trust op die been te bring, sodat die bates uitnemend aangewend kan word vir die bevordering van Afrikanerkultuur. Die Selfhelp Trust het onder leiding van Nico Tromp in die middestad van Windhoek ’n bymekaarkomplek vir Afrikaners opgerig en dit Ons Erfdeel genoem. Op die terrein is die Bittereinder-monument, een van die min Afrikanermonumente in Namibië. Ons Erfdeel huisves vandag ’n Afrikanerargief, biblioteek en is ’n bymekaarkomplek vir Afrikaanse kultuurorganisasies. Saam met dr. Callie Opperman, het Nico ’n leidinggewende rol gespeel in die totstandkoming van ’n kulturele vennootskap tussen Netwerk en die FAK in Julie 2013. Dit is die eerste internasionale vennootskap tussen twee gelykwaardige Afrikanerorganisasies van die aard. Deur saakmakende en rigtinggewende leierskap, harde werk, deursettingsvermoë en selfopoffering het Nico Tromp vir Afrikanerkultuur en erfenis in Namibië ’n toekoms geskep. In 2017 het die FAK hom vereer met die FAK-Toekenning vir Uitnemende Leierskap. Dit is ook die eerste keer sedert 1929 dat die FAK ’n Namibiese burger op dié wyse vereer.

 

Die Nico Tromp-toekenning vir die bevordering van kultuur en erfenis vereer sakeleiers en entrepreneurs wat op ’n uitnemende wyse ’n rol speel tot die toekoms van Afrikanerkultuur en erfenis.