Draers van die boodskap

Met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949, het daar perdekommando’s
van dwarsoor die land, selfs vanuit die voormalige S.W.A. en Rhodesië, na Pretoria met groeteboodskappe vertrek.

25 Oktober 1949: Die Rapportryers vertrek uit Kaapstad vir die

Die gedagte het by hulle ontstaan om ’n reünie van hierdie “Rapportryers” te hou, en ’n klub te stig vir Afrikaners, waar hulle hul Christenskap en Afrikanerkultuur kan uitleef, gesellig saam kan verkeer en net doodeenvoudig lekker kuier. Die klub is toe die volgende jaar in die destydse bekende Bloukamer te Parkstasie in Johannesburg gestig en het bekend gestaan as die Rapportryerklub. Die klub het dinamies gegroei tot die landwye volksdiens- en kultuurbeweging, bekend as die Federasie van Rapportyerskorpse.

Mettertyd is die Junior Rapportryers ook gestig vir manne onder 35 jaar oud. In 2000 het die Federasie van Rapportryerskorpse ontbind en saamgesmelt met die Junior Rapportryerbeweging, waarna die naam verander is na die Rapportryerbeweging.

Die RRB bestaan vandag uit korpse wat in elke dorp of stad gevestig kan word. Daar kan meer as een korps in ’n dorp of stad wees. Korpse in ’n provinsie werk nóú saam.

Korpse hou normaalweg eenkeer per maand ’n vergadering of byeenkoms. Getrou aan tradisie, word dit dikwels met ’n vleisbraai afgesluit.

Dié beweging streef daarna om die Afrikaanse taal, sedes en gewoontes soos geopenbaar in die Christelike geloof, geskiedenis en tradisies te ontwikkel, uit te leef, te handhaaf en te bevorder met die jeug en gesonde gesinsbande as vertrekpunt.

Die leuse van die RRB is: Draers van die boodskap.

Johan Roos, president van die Rapportryers, oorhandig die Presidentstoekenning aan dr. Jackie Grobler, ‘n historikus en skrywer van ‘n tiental publikasies oor die geskiedenis en kultuurerfenis, tydens vanjaar se Landsberaad te Kroonstad.

Die FAK-Kultuurnetwerke en die Rapportryers werk saam aan verskeie projekte. Die Kultuurnetwerk het die voorreg gehad om die tweejaarlikse Landsberaad van die RRB op Kroonstad by te woon. Vanjaar is die 70ste herdenking van dié Beweging se ontstaan . Hier is planne beraam om monumente te bewaar, meer saam te werk en die jaarlikse Bybelvasvra vir skoolleerlinge, ’n vlagskipprojek van die RRB, verder uit te bou.

Die Vereeniging-tak van die Rapportryerbeweging kuier by die FAK-hoofkantoor in Pretoria.

Vandag bied die Rapportryersorganisasie verskeie projekte in die gemeenskap aan.

Vir meer inligting klik hier: www.rapportryers.co.za