Mediaverklaring

25 Februarie 2023

Nuutste FAK-sangbundel in die pyplyn

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gaan met dié organisasie se eeufeesviering in 2029, die nuutste FAK-sangbundel vrystel.

Die eerste sangbundelkomiteevergadering het gister (24 Februarie 2023) by die Voortrekkermonument plaasgevind en dit is met trots wat die FAK hierdie projek en sy komitee aan die publiek bekendstel.

Daar is talle bekendes wat ingestem het om saam met die FAK geskiedenis te skryf tydens die verloop van hierdie projek. Danie du Toit, ook bekend as Danie Reënwolf van Spoegwolf, is een van die komiteelede.

“Ons het met twee FAK-sangbundels in ons huis grootgeword,” het Du Toit vertel. “Ek is baie opgewonde om deel te wees van hierdie projek!”

Die ander lede wat op die komitee dien, is Pieter Smith, Jannie Moolman, Piet Smit, Monika Maree, Coert Grobbelaar, Joe Niemand, Gisela de Villiers, Machiel Roets, Franco Prinsloo, Irma Liebenberg en Christelle Engelbrecht. Verder as deel van hierdie span is David du Plessis en Stefan Jansen wat gaan bystaan met outeursreg en publikasieregte.

Onder leiding van Jaco van Staden, die FAK se projekbestuurder van musiekontwikkeling, gaan hierdie geskiedkundige projek gedryf word.

“Om deel van hierdie projek te wees, is om geskiedenis te skryf,” sê Van Staden. “Die FAK-sangbundel is iets wat in elke huisgesin aangetref kan word en vir die meeste van Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis, was dit die enigste sangbundel wat in musiekopleiding beskikbaar was. Hierdie sangbundel stel al vir generasies die standaard.”

Franco Prinsloo, bekroonde komponis, sê: “Die rol van die FAK-sangbundel is dat dit dien as ’n argief vir Afrikaanse musiek en musiekgeskiedenis.”

Die FAK is in 1929 gestig en is die oudste kultuurorganisasie van sy soort en het in sy amper 100 jaar se bestaan talle sangbundels bekendgestel.

“Die doel van hierdie sangbundel is nie om ou liedere net weer te publiseer nie, maar om nuwe innovasie in die Afrikaanse musiekindustrie te ondersteun en te stimuleer,” verduidelik Van Staden.

Die eerste FAK-sangbundel, genaamd die FAK-Volksangbundel vir Suid-Afrika is in 1939 vrygestel en was die eerste. Die laaste sangbundel wat die FAK vrygestel het, het in 2016 verskyn.