Hoewel Rudi Muller verlede jaar reeds sy twintigste jaar in die musiekbedryf gevier het, het sy gewildheid regtig eers toegeneem nadat hy hom op kontemporêre Christelike musiek begin toespits het.

Veral sy albums Tetelestai en Loflied was baie suksesvol, en nou het hy dit met sy jongste album, Nuwe dag, opgevolg. Daar kan nie gesê word dat die album op ’n goeie of ’n slegte noot begin nie, want dit begin nie op ’n noot nie. Die eerste snit, “Terug na die begin”, is bloot ’n voorlesing van die skeppingsverhaal soos dit in Genesis 1 opgeteken is. Dit is vyf minute lank, en ’n mens wonder of dit nie beter sou wees as dit getoonset was nie. “Suid van die ewenaar” is die eerste snit waarop hy sing; dit is ’n pragtige lied oor Suid-Afrika wat ’n treffer kan word. Rudi het dit saam met Kobie Koen geskryf. Die titelsnit is Rudi se eie komposisie, wat self trefferpotensiaal het. “Die rots” is ’n lekker snit wat maklik is om saam te sing. Rudi het “Laat die reuse val” saam met Kobie Koen geskryf; hierin sing hy van die struikelblokke wat ’n mens soms teëkom en hoedat God jou help om dit te oorwin. “Dra my” is nog een van Rudi se eie komposisies, en hierin sing hy van God se bystand in moeilike tye. “Same power” is nie net die eerste Engelse snit nie, maar ook die enigste een wat hy nie geskryf het nie. Dit is oorspronklik gesing deur Jeremy Camp, ’n bekende internasionale sanger van kontemporêre Christelike musiek. Lizelle Maree van die lof-en-aanbiddingsgroep Vir ander, wie se album self onlangs verskyn het, sing saam met hom op “U is ons God”. “Ek sal U loof”, is ’n pragtige loflied wat Rudi self geskryf het.

“Jesus lewe”, is een van die hoogtepunte vanaf die album; dit is ’n oorspronklike komposisie met ’n maklike wysie. “I got saved”, is ’n pragtige snit wat oorspronklik deur Corey Voss gesing is. Op “Ek roep jou naam” is God self aan die woord. “Eternal love” is die laaste snit wat Rudi self geskryf het. “Without Him” is oorspronklik deur Mylon le Fevre, nog ’n bekende internasionale sanger van Christelike musiek gesing. Chris Tomlin het “Everlasting God” oorspronklik gesing; Rudi se weergawe is net so goed soos die oorspronklike een.

Met hierdie album het Rudi weer bewys dat hy een van Suid-Afrika se voorste sangers van kontemporêre Christelike musiek is. Hy is nie net ’n goeie liedjieskrywer nie; sy weergawes van bekende liedere hoef ook glad nie vir die oorspronklikes terug te staan nie. Hierdie album gaan ten minste net so gewild soos sy vorige vrystellings word!