Deur die jare was daar verskeie Suid-Afrikaanse vrouegroepe wat tot die musiekbedryf toegetree het en wisselende sukses behaal het.

Min mense sal Clout vergeet, en intussen het groepe soos Cutt Glas, Shine 4 en Mwah! gekom en gegaan. Nou het ’n nuwe vrouegroep, One voice, op die toneel verskyn en hul gelyknamige debuutalbum is onlangs uitgereik. Die groep bestaan uit Carla Strauss, Karma Coetzer, Kalinka Kilian en Janke Bester. Hulle het reeds in 2018 bymekaargekom.

Jy behoort nie die woorde van die speelse eerste snit, “Ryk man”, ernstig op te neem nie; hierin spot hulle met die poppies wat net agter ’n man se geld aan is. Soos die meeste liedjies op die album, is dit ’n komposisie van Lientjie Sothman. “Droomplaneet” herinner ’n bietjie aan oorsese groepe soos The Go Go’s en Transvision Vamp; dis lekker om hierdie tipe klank in Afrikaans te hoor. “Wake up” is ’n baie goeie oorspronklike Engelse komposisie, weer eens uit die pen van Lientjie Sothman. Hulle het drie internasionale treffers op die album ingesluit; die eerste een is ’n baie goeie weergawe van GRL se “Ugly heart”. “Sonder jou” is beslis ’n snit met trefferpotensiaal. Die viool en klassieke kitaar op “Liefdesrooi” gee hierdie snit ’n besondere klank en wys hul veelsydigheid. Die laaste oorspronklike snit is “You don’t own me”; nog ’n moontlike treffer. Soos met al die snitte op die album, is hul harmonieë baie goed. Little mix en Jason Derulo het “Secret love song” oorspronklik gesing; One Voice se weergawe is net so goed soos die oorspronklike een. Die laaste snit is hul weergawe van “Sucker”, oorspronklik gesing deur Jonas Brothers. Hierdie liedjie is die een wat op die oomblik radiolugtyd kry. Dis maklik om te verstaan hoekom, want dis eenvoudig skitterend.

Dis regtig jammer dat die album net uit nege snitte bestaan en net minder as ’n halfuur lank is, want ’n mens luister nog lekker en dan is dit verby. Hoe ook al, dis beter om nege goeie snitte te hê as ’n aantal snitte wat die moeite werd is en ander wat bloot die CD volmaak. One voice is beslis een van Suid-Afrika se beste vrouegroepe tot nog toe, en ’n mens hoop dat hulle nog baie lank saam gaan sing!