S le R Marais

Stephanus le Roux Marais (*1896 – †1979) was ’n Suid-Afrikaanse komponis, orrelis en musiekonderwyser. Marais, hoofsaaklik ’n liedere-komponis, is een van die eerste baanbrekers van die Afrikaanse kunslied. Hy het begin in ’n tydperk toe die Afrikaanse taal nog in sy babaskoene was, die getal digters beperk en die bruikbare gedigte skaars was. In hierdie opsig dien sy eenvoudige, vloeiende, singbare liedere as fondament vir die opbou van ’n oorspronklike Afrikaanse liederekuns. Hy is by uitstek ’n romantikus en dus oorheers die emosionele aspekte in van sy musiek. Sy direkte benadering, verbonde aan sy fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal, die trefkrag van sy melodieë en sy begrip van die vereistes van die menslike stem, het algemene gewildheid vir sy liedere verwerf. Marais se gewildheid as liedere-komponis Iê daarin dat die gewone luisteraar dit kan waardeer en tog is die kunsgehalte van sy werke hoog.

 

Gedurende 1946 het die komponis ’n brief ontvang waarin hy meegedeel is dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy erepenning vir musiek aan hom toeken as blyk van waardering vir die rol wat hy ter bevordering van die Afrikaanse musiekkuns gespeel het. In sy huldigingsrede het prof. dr. WFC Arndt Marais se prestasie soos volg opgesom: “’n Mens kan sy betekenis t.o.v. sang vergelyk met dié van Langenhoven op die gebied van die letterkunde: toe daar ’n innerlike behoefte en drang by die volk was om in hul eie taal te sing, het Marais dit vir hulle moontlik gemaak deur vir die volk te komponeer. Sy werk het beslis die meeste bekendheid en gewildheid verwerf.” Wat sy bydrae betref, het Anton Hartman gesê: “Hy het waarskynlik meer as enige ander persoon gedoen om die Afrikaanse sanger van liedere in sy eie taal te voorsien.”

 

As ywerige en nougesette komponis het hy 91 Afrikaanse kunsliedere voortgebring, waarvan 56 reeds teen 1946 gepubliseer was. Sy “Heimwee” is deur Mimi Coertse internasionaal bekendgemaak.

 

Met dié toekenning word erkenning gegee aan persone se besondere bydrae tot die Afrikaanse kunslied.