Mediaverklaring

24 Maart 2023

Stefan Jansen bekoor in die Liedjietuin

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse Liedjietuin is al vir jare dié bestemming vir Afrikaanse sangers en dit is vandeesweek net weer bewys met die vrystelling van Stefan Jansen se nuutste album.

Stefan Jansen, kunstenaar en liedjieskrywer, het onlangs groot opspraak gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf en is verseker ’n kunstenaar om dop te hou. Hy het Donderdag 23 Maart 2023 in ’n intieme eksklusiewe konsert sy nuutste album, ???????????????????????????? ????????????????, vrygestel.

“Dis nogal ironies dat ek my Engelse album vrystel in die mees Afrikaanse plek op aarde,” skerts Jansen. “Maar ek is nog lank nie klaar met Afrikaanse musiek nie.”

Jansen het die gehoor bekoor met sy akoestiese kitaar en mondfluitjie en saam met hom op die verhoog was Jan-Louis van der Berg, wat perkussie en agtergrondsanger was, Emile Vermeulen op die klavier en Ashleigh Botha met haar viola.

“Ek sal dit nooit vergeet nie,” sê Jansen. “Ek is bly my eerste konsert in die Liedjietuin was met my album se vrystelling. Dit was een van my beste ervarings. Die venue is so intiem, hierdie tuin gee regtig ’n welkome gevoel.”

???????????????????????????? ???????????????? vaar ongelooflik goed op beide die Engelse en Afrikaanse mark en was op Reputasie se top 40-trefferlys.

Jansen is reeds besig om aan sy nuwe projek te werk en het tydens die vertoning die gehoor tot trane gebring met slegs ’n klein voorsmakie.

“Dit is ‘n baie tradisionele orkes, met ’n moderne lirieke-aanslag tot die hedendaagse Afrikaner,“ sê Jansen, maar wou nie meer van dié projek weggee wat hy en Emile Vermeulen aanpak nie.

“Ek wil in die hart van elke Afrikaanse persoon inklim en sê ek verstaan jou, ek weet wat jy voel.”

Jansen gaan voort en verduidelik dat Afrikaans besig is om vinnig te groei en dat iemand moet stop en terugkyk, en vra of ons nog weet waar ons vandaan kom.

Jansen het sy liefde en diepe trots vir Afrikaans ontdek in ’n wildvreemde land.

“Ek het op straat gestaan in Switserland en Engelse liedjies gespeel en die mense het glad nie gereageer nie. Daar het ’n tannie verbygeloop en letterlik in my kitaar se boks getrap en nie eers omgegee nie. Ek was eintlik so bietjie moedeloos en ek begin toe toevallig ‘Lisa se klavier’ sing. En toe stop die mense wat verbyloop in hulle spore. Teen die tyd wat ek klaar was, toe staan daar seker sestig mense om my. Eweskielik is ek interessant en wil mense weet wie ek is.”

Jansen se trots vir Afrikaans het daar in ’n vreemde stad opgevlam en hy het besef dat Afrikaans eintlik ’n massiewe internasionale kultuur is.

“Musiek was nog altyd my droom,” sê Jansen, wat sy regsloopbaan agtergelaat het om musiek voltyds te beoefen. Hy verduidelik dat sy pa hom oorreed het om eers ’n graad te kry, ’n sort vangnet, voordat hy sy musiekloopbaan kon nastreef.

“Ek het op ’n stadium besef ek is besig om twee dinge half te doen, in plaas daarvan om een ding voluit te doen. Ek moes kies en ek kon nie musiek opgee nie.”

Hy sou egter niks van sy lewe verander nie. Met dié dat hy eers op ’n ouer ouderdom die musiekbedryf betree het, voel hy dat daar ’n soort volwassenheid saam met sy musiek gaan, wat daar dalk nie sou wees as hy vroeër al musiek vrygestel het nie.

Nou put Jansen sy inspirasie vanuit die wêreld om hom, en hy weet wat sy doel is en die boodskap wat hy moet oordra. Dit is verál ook in sy familie waaruit hy sy inspirasie put.

“As jong man was familie vir my nie so groot prioriteit nie. Met ouderdom het ek besef familie is só belangrik en dit is letterlik wat my volgende album inspireer,” sê Jansen.

Jansen se grootste aanhanger is ook heel toevallig sy ma. Sy hele gesin het sy albumvrystelling bygewoon.

“Ek is só trots,” het Jansen se ma, Elsabé Jansen, bewoë gesê.

Die FAK en Stefan Jansen se produksiemaatskappy, Vonk Musiek, is in noue samewerking om kunstenaars soos Jansen ’n platform te bied om binne die Afrikaanse gemeenskap te groei en so die Afrikaanse kunste te bevorder.