Geskryf deur Dr. Danie Langner, Besturende Direkteur van die FAK

Markus 5:21-34; 35-42

Het jy al vrede met jou eie dood gemaak? Vrede gemaak met die feit dat die begrafnisformulier ook op ’n dag langs jou kis gelees gaan word? Dit is vir ons moeilik om oor die dood te praat, selfs ons eie dood, want diep in ons harte maak die dood ons bang en onseker. Dan praat ons nie eers oor die dood van iemand in ons gesin of ons familie en vriendekring nie. Wanneer ons met dood gekonfronteer word besef ons watter verskil geloof in Jesus maak. 

Ons hoor die angs, maar ook die geloof van ’n pa wat besef sy kind is besig om te sterf wanneer Jairus voor die voete van Jesus neerval en hom dringend smeek: “Kom tog … my dogtertjie lê op sterwe.” 

Wanneer mens die verhaal lees, kan jy nie help om so bietjie verbaas te wees oor Jesus se reaksie op Jairus se pleitroep nie. Jesus gaan saam met die angsbevange pa, maar het langs die pad eers ’n lang gesprek met die vrou wat aan bloedvloeiing ly. Die vrou is al 12 jaar siek, terwyl Talita besig is om te sterf. Kon Jesus nie eers die dringende doen en die vrou later genees nie? Toe Jairus die verpletterende nuus kry, wat enige ouer vrees, ‘jou kind het sopas gesterwe’, sê Jesus vir Jairus hy moenie ontsteld wees nie. Is Jesus werklik so ongeërg as wat dit op die oog af lyk? Nee, glad nie. As Jesus beveel Talita Koem, dogtertjie, ek sê vir jou staan op, is dit maar ’n voorspel, ’n overture, ’n inleiding van dit wat op Opstandingsdag gaan gebeur. Daardie Sondag toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy die finaliteit van die dood oorwin. Ja, die dood is ’n tragiese en harde werklikheid waaraan ons elke dag herinner word, maar die angel is getrek. Die graf is nie ons einde nie. Jesus verseker ons “Wie in My glo, sal lewe”. Daarom bely die begrafnisformulier ook die goeie nuus: As ons leef, leef ons tot eer van die Here, en as ons sterf, sterf ons tot eer van die Here. Of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Ons lewe moet dit nou reeds wys.