’n Tweede minder bekende trekleier tydens die Groot Trek was Louis Nel Snr.

Louis Jacobus NEL as vyfde geslag Nel in die Kaap is op 15 Februarie 1778 as seun van Johannes Petrus NEL(1749-1814) en Cecilia Johanna Du PREEZ in die Kaapse gemeente (p.239), saam met sy neef, met dieselfde name gedoop. Een van die doopgetuies is ’n tante en  suster van sy ma, by name Martha Maria Du Preez. Sy jonger suster, Johanna Cecilia (1780) is die oumagrootjie van genl. Louis Botha (1862-1919).

Louis Jacobus se oupa aan vaderskant was slegs Louis NEL (1721) en daar is nie duidelikheid waar eg. se tweede naam vandaan kom nie, maar sy neef en genant is na beide sy oupas, Louis NEL en Jacobus POTGIETER vernoem.

Sy ouers is reeds voor die Groot Trek oorlede.

Louis J. en Johanna Margaretha BOTHA (* 1787; Philip Rudolph-dg. en 11 jaar sy junior) is te Kaapstad op 25 April 1802 in die huwelik bevestig en elf kinders is tussen 1803 en 1827 uit die huwelik gebore. 
Die gesin het in die omgewing van die wyk Boesmansrivier, dist. Uitenhage vertoef waar drie kinders gebore is en hy vir ’n periode as veldkornet gedien het. Hul vierde kind is te Graaff-Reinet gedoop en ander o.a. te Uitenhage. Hulle bevind hulle op die plaas Commandofontein, Oos-Rietriver in die tyd van voorbereiding vir die Groot Trek. Louis J. en sy geselskap het volgens Visagie in November 1837 uit die Oos-Rietrivier getrek. Die familieplaas Commandofontein wat op die kruispunt van die trekpaaie van Grahamstad na die Winterberg en van Somerset-Oos na Fort Beaufort was, was baie goed geleë vir plek van samekoms. (Oos-Rietrivier, p.74).

Die trekgeselskap het Natal ongeveer April 1838 bereik  en kort daarna het drie familielede o.a. Louis J. se oudste seun in die Slag van Italeni (11.4.1838) gesneuwel. 

In Natal het sy tweede seun, Philip Rudolph NEL (1804-1883) die leierskapsrol by sy vader oorgeneem en is ook te Pietermaritzburg as die eerste landdros in 1839 aangestel.

Louis J. se eggenote is op 26 September 1879 in Natal oorlede. Sy sterfdatum is egter nie bekend nie, MAAR volgens Visagie moontlik voor Februarie 1875.

Dit is moeilik om te bewys wie in watter trekgeselskap getrek het, maar Visagie vermeld die volgende gesinshoofde in Voortrekkerstamouers wat o.a. in die Nel-trekgeselskap was: 
Oudste seun, Johannes Petrus NEL (1803-Italeni 11 April 1838) en sy eggenote en kleinniggie, Susanna Maria NEL.

Tweede oudste seun, Philip Rudolp NEL (1804-1883), vernoem na sy Botha-oupa aan moederskant en sy eggenote, Anna Frederika CLAASSEN. Hy was die eerste landdros van Pietermaritzburg en Volksraadslid van 1841 tot 1845.

Skoonseun, Gerrit Cornelius NEL (1813-Italeni 1838) en sy eggenote, Elisabeth F. NEL.

Broerskind, Johannes Petrus NEL (1798-) en sy eggenote en niggie, Susanna NEL.

BRONNE

Argivale bronne

NG Kerk Kaapland doop- en huweliksregisters.

Literatuur

VISAGIE JC. 1989. Die trek uit die Oos-Rietrivier: studies oor die Groot Trek. Stellenbosch.

VISAGIE Jan C. 2011. Voortrekkerstamouers, 1835-1845. Pretoria: Protea Boekhuis.