Mediaverklaring

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Oos-Rand-Kultuurnetwerk en ander belanghebbendes het op 6 Mei die Turffontein-konsentrasiekamp skoongemaak en verfraai ter voorbereiding van Konsentrasiekampdag wat jaarliks op 16 Junie plaasvind.

Dié dag, 16 Junie 1900, het die Britse imperialis, Lord Roberts die verskroeideaardebeleid aangekondig en hierdie terrein word voorberei om vir die eerste keer ’n bymekaarkomplek te wees om op 16 Junie vanjaar hulde te bring aan die vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in hierdie konsentrasiekamp gesterf het.

Vir hierdie projek het die Kultuurnetwerk hande gevat met Org Meyer en Suiderlig Voortrekkerkommando’s, die VF Plus van Johannesburg en die Oosrand, en vrywilligers van die gemeenskap het ook ingespring om dié historiese terrein te versorg.

Die verskroeideaardebeleid het die grootskaalse afbranding van plase en die wegvoering van die bevolking tot gevolg gehad. Plase is tot op die grond afgebrand, huise is vernietig en selfs al die vee is gedood. Vroue, kinders en bejaardes is weggevoer en in konsentrasiekampe aangehou, alles ’n Britse taktiek om die Boere se moed te breek en die guerrilla-oorlogstaktiek in die wiele te ry.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, vertel dat die meeste erfenisterreine deesdae agteruitgaan.

“Dit is nou al ’n daaglikse verskynsel dat die mense in die verskeie gemeenskappe self moet ingryp om die bakens te beskerm en te behou. Ek hoop van harte dat meer gemeenskappe sal begin ingryp en self verantwoordelikheid neem vir ons eie erfenisbakens.”

Hy vertel verder dat in ons eie hande kan ons ’n toekoms vir ons erfenisbakens verseker.

Rudolf Herbst, VF Plus Oosrand-raadslid en voorsitter van die Oosrand-Kultuurnetwerk, is van mening dat Afrikaners met tyd meer en meer ander vrywilligers sal kan aktiveer soos mense bewus raak van hierdie erfenisterrein en “mede-eienaarskap daarvan te vat, sodat ons kan verseker dit bly bewaar vir ook ons nageslagte.”

716 vroue en kinders het in dié konsentrasiekamp gesterf.