Die laaste tyd was daar ’n oplewing in Afrikaanse lof-en-aanbiddingsmusiek; veral Retief Burger en Duis-Lig vind groot byval by Christene van alle ouderdomme en denominasies.

Die jongste lof-en-aanbiddingsgroep wat tot die musiektoneel toegetree het, is VirAnder, wat uit die Woord-en-Lewe-gemeente aan die Oos-Rand van Gauteng ontstaan het, en hul eerste album, U alleen, het onlangs verskyn.

Die eerste snit, “Prys die Heer”, is ’n uitbundige loflied wat ’n mens dadelik laat saamsing. Danielle Ackerman is die hoofsangeres op hierdie snit. Die titelsnit is, soos die meeste ander snitte, ’n oorspronklike komposisie; Morné Coetzee is die hoofsanger. Daar is een snit wat nie ’n oorspronklike Afrikaanse komposisie is nie; dit is die Afrikaanse weergawe van een van die gewildste lof-en-aanbiddingsliedere van die afgelope tyd, naamlik “I raise a hallelujah” van Bethel Music. “Sing ’n halleluja” is ’n regstreekse vertaling van hierdie lied, maar dit werk. Morné Coetzee en Lizelle Maree is die hoofsangers op hierdie snit. Daar is net een manier om hierna te luister, en dis KLIPHARD, want dit is een van die heel mooiste lofliedere wat ’n mens tot eer van die Here kan sing.

Na die lofprysing van “Sing ’n halleluja” is “Meer”, met Chantel van Zyl wat voorsing, eerder ’n aanbiddingslied, maar steeds baie mooi. Danielle Ackerman is weer die hoofsangeres op die volgende snit, “Braaf”, en die boodskap is dat ’n mens nie bang moet wees as jy in die Here glo nie. “Nader” is nog ’n mooi aanbiddingsnit waarop Charles Ackerman voorsing , en die boodskap is ’n versugting om nader aan God te kom, en om God se wil te soek. Die trom- en perkussiespeler, Jady van Zyl, is die voorsanger op “Kind van God”, en die boodskap is dat ’n mens niks meer nodig het as om God se kind te wees nie. “Ek is vergewe”, met Lizelle Maree as hoofsangeres, is een van die beste snitte op die album, en die boodskap dat God ’n mens vergewe, kan nie genoeg verkondig word nie. Morne Coetzee is weer die hoofsanger op “U is goed”; hierin sing hulle van God se liefde. Die enigste probleem is dat die woord “kondisies” eerder as “voorwaardes” gebruik word. Ter versagting moet ’n mens ook sê dat dit met “ambisies” rym. Op die pragtige snit “Wees stil”, waarop Chantel van Zyl voorsing, is God self aan die woord; hierin sing hulle van God se liefde vir sy kinders. Die akoestiese kitaarwerk op hierdie snit is eenvoudig skitterend. Die laaste snit, “Waarlik vry”, is allesbehalwe die weggooisnit wat gewoonlik aan die einde van ’n CD voorkom. Charles Ackerman is die hoofsanger, en Jady van Zyl se perkussiewerk is regtig iets besonders.

Met hierdie tipe musiek is daar altyd ’n meningsverskil oor wat belangriker is: ’n sterk boodskap of musikale uitnemendheid. Wanneer ’n mens tot eer van die Here sing, behoort ’n uitsonderlik hoë musikale standaard nie onderhandelbaar te wees nie; as jy tot eer van Hom sing, is niks beter as die heel beste aanvaarbaar nie. Gelukkig voldoen VirAnder aan hierdie vereiste, maar terselfdertyd word dit deur ’n sterk boodskap ondersteun. Dis ook goed om te hoor dat hulle, soos internasionale groepe soos The Beatles, Fleetwood Mac en The Eagles, van verskillende hoofsangers gebruik maak; ’n mens luister nie altyd na dieselfde stem nie. Die meeste snitte op die album is ook uiters geskik vir gemeentesang, nie net in charismatiese denominasies nie, maar ook tydens minder formele eredienste van die susterskerke. Daarom kan dit as een van die heel beste Afrikaanse lof-en-aanbiddingsalbums beskou word.