Deur Carla van der Spuy

Of jy nou ’n voorslag of ’n ramp in die kombuis is, hierdie boek gaan ’n staatmaker word vir almal wat met ’n lied in die hart of langtand voor die stoof staan.

Die VLV-Kookboek is, so reg in hierdie organisasie se 90ste bestaansjaar, ’n waardige opvolger vir die alomgeliefde Kook en Geniet waarmee Suid-Afrikaners al geslagte lank grootword.

Die VLV funksioneer binne ses studierigtings: Leefstyl, Openbare Sake, Opvoeding en Kultuur, Gesondheid, Kunste en Handvlyt asook Landbou en Tuinbou. Maar vir talle is die “VLV-tannies” sinoniem met watertandgeregte, kompetisies waarin die kombuisgodinne behoorlik toor en geselligheid. Hulle het ’n reputasie as die voorste kosmakers verwerf en is so deel van Suid-Afrika soos koeksisters en vleisbraai.

In die ou dae was die uitdagings om te kook soveel groter met hout- of koolstowe en handklitsers maar die VLV-vroue is aanpasbaar en hou tred met die tyd. Vandaar die onthouresepte asook die nuwe kortpadresepte.

Hierdie lieflike boek waarvan die kosstillering deur Sarah Dall, en die fotografie deur Myburgh du Plessis gedoen is en die beste resepte van VLV-lede van regoor die land voorsien is, bevat soos die subtitel verwoord, ou beproefde resepte wat die toets van die tyd deurstaan het sowel as nuwe weergawes met ’n kortpadkinkel.

Soos in die voorwoord geskryf is, het die VLV-kompetisies ’n groot rol gespeel in die suiwer behoud van tradisionele resepte en is hoë standaarde deur kenners vasgelê. In toeka se dae was die meeste vroue moeders en tuisteskeppers, terwyl die oorgrote meerderheid vroue deesdae werk en nie veel tyd het om voor die kospotte te verwyl nie. Daar is vir beide voorsiening gemaak; diegene wat met tyd en liefde bak en brou en diegene wat noodgedwonge ’n skinkbordleefstyl moet volg wat genadiglik deur moderne kombuistoerusting soos mengers, versappers en mikrogolfoonde vergemaklik word.

Die boek is netjies in twee dele verdeel met resepte van toe en nou. Dit bevat resepte vir ontbyt, ligte maaltye, hoof- en voorgeregte, gebak en nageregte en preservering en souse.

Die foto’s en die font waarin die boek gedruk is, is ’n fees vir die oog en van die resepte is so eenvoudig dat mens party sommer met die eerste leesslag sal onthou. Dis egter duidelik dat die eindproduk baie tyd, moeite en beplanning geverg het.

Baie van die nodige bestanddele is in elk geval in jou spens of koskas. Jy hoef nie ’n soektog soos vir ’n naald in ’n hooimied op tou te sit om flops te keer nie. Interessantheidshalwe, in vrouegevangenisse word die Cremoratert waarvoor daar ook ’n resep in die boek is, altyd voorberei wanneer een van die babas agter tralies verjaar. Al die bestanddele is in die gevangenis se kombuis beskikbaar.

Die boek bevat ook resepte vir kos wat mens dink almal uit hul kop sal ken, maar natuurlik is dit nie die geval nie. Ek weet byvoorbeeld nou vir die eerste keer presies hoe mens onderskeidelik mieliepap, stywe mieliepap en krummelpap maak. Die blaardeeg sal ek nou nie aandurf nie, maar ek is seker daarvan dat dit in die smaak van tuisgebakgeesdriftiges sal val.

Daar is ou staatmakers soos “My ma se lewerkoekies”, viskoekies, soutterte en macaroni- en-kaas. En weereens, ja, nie almal weet hoe om dit  te maak nie. Dan is daar ’n blitsige manier om die immergewilde bobotie en frikkadelle voor te sit. Om ’n skaapboud (baie van ons slegs met spesiale geleenthede beskore) voor te berei, is ook doodmaklik. Daar is ook onder meer resepte vir skilpadjies en vir “My ma se waterblommetjiebredie,” kontreikos so eie aan die Kaap. En melkkos, daardie Sondagaand koshuiskos wat jou met nostalgie laat terugdink.

Modekos soos frittata, muffins en peer-en-bloukaasslaai word ook gedek. En vir die onverwagse gaste kan jy die “Maklike 7 minuut-sjokoladekoek” of ’n mikrogolf-melktert in ’n japtrap voorberei.

Met bekostigbare pampoen kan jy koningskos maak met drie resepte op een blad, naamlik pampoenkoekies, pampoenmoes en “Ouma se soetpampoen”. Vir die gesondheidsbewustes is daar ook meer as genoeg groente- en vullende slaairesepte om uit te kies.

Die VLV-kookboek is vir enigeen geskik. Van die deurwinterde sjef tot die vrygesel wat van grys kafeepasteie leef en by wie die vroue in sy lewe neul om gesonder te eet. Hierdie boek mag hom dalk net oortuig om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Dis die ideale geskenk vir sowel diegene wat moet eet om te leef en diegene wat leef om te eet. Ons moet immers almal die innerlike versterk.

Met hierdie boek is dit ’n geval van as jy ’n resep kan lees, kan jy kook.

Eet smaaklik!