Jy sal behoorlik kan kies en keur uit die groot verskeidenheid Afrikaanse romans by NB-Uitgewers.

Hier volg slegs ‘n paar:

 

1. Aanspreeklikheid

 

OUTEUR: Jaco Fouché

KATEGORIE: Afrikaanse roman

PRYS: R285,00

Jaco Diehl woon op Hermanus. Hy word getuie van ‘n poging tot moord op sy buurvrou, en geleidelik word hy betrek by ander dade van geweld: eers op Hermanus, maar later ook op Somerset-Wes en eindelik in Kaapstad. Sy lewe is aan die disintegreer, en dit lyk nie of hy regtig omgee nie. Die hoofkarakter sleur ons al dieper mee in ‘n doolhof. Wie is aanspreeklik vir die moorde, en wat is die waarheid? Of word ook die waarheid ‘n storie, ‘n verdoeseling wat nes Jaco nie vertrou kan word nie?

2. Somtotaal

OUTEUR: Anchien Troskie

KATEGORIE: Afrikaanse roman

PRYS: R250,00

Ester Labuschagne en Nonthando Majolo het saam groot geword op ‘n afgeleë plaas in die Oos-Kaap. Boesemvriendinne gewees – tot een dag van verraad. Nou, soveel jare later, met Nonthando se dogter Mila self al ‘n volwasse vrou, kom spook die verlede by Ester. Met dié nuwe roman vestig Troskie haar opnuut as meevoerende skrywer. Dit is ’n storie wat geen leser onaangeraak sal laat nie. Troskie skryf met groot vertedering, maar ook met humor. Somtotaal is ’n hoogtepunt in haar skrywersloopbaan.

 

3. Draairivier

OUTEUR: Engela Ovies

KATEGORIE: Afrikaanse roman

PRYS: R250

Engela Ovies se debuutroman, Draairivier?, is ’n deernisvolle verhaal oor familie, vriendskap, liefde en vergifnis.

Dis die jaar 1955 en Suzanna Jansen woon saam met haar pa, ma en broer Gert in ’n riethuisie op ’n plaas naby Kakamas. Dis die Kersvakansie voor Sanna se laaste skooljaar en deesdae kry sy vlinders in haar maag elke keer as sy die buurseun, Johannes, in een van die veekampe raakloop. En dan is daar Inge wat soos die slapende skoonheid gevangene is in die Groothuis. Een middag besluit Sanna om aan haar kamerdeur te klop – min wetende dat ‘n vriendskap met hierdie vreemdeling haar en Johannes se lewens onherroeplik gaan verander.

Engela Ovies se debuutroman, Draairivier?, is ’n deernisvolle verhaal oor familie, vriendskap, liefde en vergifnis.

 

4. Slagoffer

OUTEUR: François Smuts

KATEGORIE: Afrikaanse roman

PRYS: R280,00

Dawid Neethling is ’n suksesvolle, getroude psigiater op Stellenbosch. Wanneer die beeldskone musiekstudent Eva Rodriguez sy pasiënt word, kan hy hom nie indink langs watter paadjies sy hom sal laat loop nie. Kort voor lank staan hy in die beskuldigdebank op aanklag van moord, en dan begin onbeheersde kragte uitspeel wat uiteindelik sy eie lewe sal bedreig.

 

5. Merk

OUTEUR: Rudie van Rensburg

KATEGORIE: Afrikaanse roman

PRYS: R228,00

Kassie het geglo sy speurderdae is getel ná die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ’n speurder in murg en been.
Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ’n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ’n brandyster merk.
Is die skuldige die man wat beskryf word as “’n weerwolf met die sperm van ’n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?