Deur Sarina Donges

  1. Lees … lees … lees!!!! Geen mens kan die ambisie hê om ’n skrywer te word, as jy nie wyd lees in die genre waarin jy skryf nie. Lees vertalings van digters uit ander lande en in jou eie taal, kyk na resensies, vind uit wat is “in” en wat is “uit”. Ek weet van geen skrywer wat sommer net blindweg skryf, met ’n afwesige leesaptyt nie.
  2. Moenie wag vir inspirasie of vir die muse nie … die muse sit iewers op ’n wolkie en droom drome wat nooit waar word nie. Sy gaan dus nie noodwendig opdaag as jy haar nader roep nie. Gaan sit op jou agterstewe, gryp ’n pen en papier en kry dit in jou kop: ’n uiters klein persentasie is inspirasie, die res is perspirasie. Jy moet eenvoudig bereid wees om hard te werk.
  3. Talent. Ja, jy moet oor ’n mate van talent beskik, maar baie skrywers is onder die wanindruk dat talent genoeg is. Heelwat skrywers wat nie noodwendig ’n wafferse sterk talent het nie, vermag dalk meer as die een wat ’n sterk talent het, maar dit nie ontgin nie.
  4. Alles op aarde is al beskryf en oor geskryf. Wat van jou ’n skrywer maak, is om om dit wat reeds deur dekades heen gesê en geskryf is, anders te sien en vernuwend te beskryf.
  5. As digter moet jy die kuns van “metaforiese denke” bemeester. Onthou: dis nie beskrywing wat tel nie, dis wys. “Poetry is not teling, but showing.” In prosa vertel jy, in poësie wys jy. ’n Voorbeeld uit my eie digbundel, In die tyd van uile: ek sou dit kon noem, dinge wat in die nag gebeur, maar in die tyd van uile wys dat dit gaan oor nagdinge. Of as jou geliefde weggaan sal jy sê: “Ek kan nie sonder jou lewe nie,” maar ’n digter sal skryf: “Sonder jou is my dae leeg en wolkeloos my lug” (George Weideman).
  6. As jy wil weet of jou werk geloofwaardig is al dan nie, moet jy dit om hemelsnaam nie vir kommentaar beskikbaar stel om deur vriende en familie beoordeel te word nie. Natuurlik gaan hulle jou vlei! Tafelberg Uitgewers het ’n idee gehad om opkomende digters se werk te publiseer in die NUWE STEMME-reeks. Kyk op Tafelberg se webblad en vind uit wanneer hulle die nuwe versamelbundel beplan. As jou werk onder die aandag kom van keurders en resensente, sal jy gou uitvind of jou werk meriete het al dan nie. Vir dié wat nog op skool is: kyk op die internet vir skryfkompetisies … die Bloemfontein Skrywersvereniging bied jaarliks ’n kompetisie aan met verskeie genres. Skryf in vir soveel as moontlik. Wees ook op die uitkyk vir moontlike kompetisies aangebied deur die FAK & MOOT DRAMAFEES.
  7. Jy moet bereid wees om te werk aan verse/stories … selde is die eerste weergawe van ’n teks perfek. Moenie jou literêre stertjie wip as jy negatiewe terugvoer kry nie. ’n Briljante digter soos DJ Opperman het vir meer as 10 jaar aan sy gedig “Draaikewers” gewerk voor hy tevrede was en Engemi Ferreira het haar boek, Die jaar toe my ma begin sing het, 14 keer herskryf.
  8. Skaf vir jou die boekie van Rainer Maria Rilke aan, ’n ongelooflike digter van Duitsland, wat raad gee aan jong digters. Hy skryf:“No one can advise and help you, no one. There is only one way: Go within. Search for the cause, find the impetus that bids you write. Can you avow that you would die if you were forbidden to write? Ask yourself this: must I write? If you can confidently meet this serious question with a simple ‘I must’, then build your life upon it.

* Sarina Donges is die organiseerder van die Moot Dramafees, wat in Oktober 2019 plaasgevind het. Die FAK-Moot-Kultuurnetwerk was by die fees as ‘n borg betrokke. Sy is ook ‘n lid van die Moot-Kultuurnetwerk.

Lees hier meer oor skryfwerk: http://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/sarina-donges-in-die-tyd-van-uile-2004.html