Willem Punt

Willem Henry Jacobus Punt is in Pretoria gebore. As seun van Hollandse immigrante, studeer hy aanvanklik aan die staatsgimnasium in Amsterdam en later in Pretoria, waar hy in 1918 matrikuleer. In 1923 behaal hy die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria en twee onderwysdiplomas; in 1932 die MA-graad in Aardrykskunde en in 1953 die PhD-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met sy baanbrekerswerk “Louis Trichardt se laaste skof”. Vanweë sy liefde vir die behoud van die historiese oudhede en erfenisse in Suid-Afrika word dr. Punt in 1959 beginner, stigter en direkteur van die Stigting Simon van der Stel, wat hom onder meer ten doel stel om belangrikste historiese geboue van sloping te red, te bewaar en te restoureer. In 1974 tree hy uit as direkteur. Dr. Punt was stigter van die Louis Trichardttrek-Monumentfonds, wat hom en sy komitee in staat gestel het om die Trichardt-gedenktuin in die destydse Lourenço Marques aan te lê. In 1967 word hy deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met ’n erepenning vereer vir kultuurhistoriese prestasie, “vir volhardende navorsing, jarelange onvermoeide ywer, taai wilskrag en hooggestemde idealisme”. Dr. Willem Punt is ’n rustelose denker en ’n navorser by uitstek. Met meer as honderd wetenskaplike publikasies van kultuurhistoriese aard, word hy vandag geroem as een van die grootste kultuurhistorici wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

 

Met dié toekenning word erkenning gegee aan persone wat ’n besondere bydrae op provinsiale en nasionale vlak lewer tot die bewaring en ontwikkeling van Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis.